OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Optimum Meiringspoort 21,1 km & 12,5 km sal vanjaar voortgaan, ondanks die omvangryke vloedskade wat De Rust en die omliggende gebiede die afgelope maande getref het.
Organiseerders het die nuus in hul jongste nuusbrief bekendgemaak en daarop gewys dat De Rust en sy omgewing swaar deurgeloop het weens die oorstromings en daaropvolgende vloede.
Meiringspoort is tans steeds onbegaanbaar, en herstelwerk aan die gebied kan volgens beramings tot twee jaar duur.
Die gemeenskap het groot verliese gely. Plaaslike boere is steeds besig met herstelwerk, terwyl verskeie ondernemings in die dorp ’n afname van tot 90% in omset ervaar.
Volgens die organiseerders is die wedloopnaweek, saam met die basaar en ander gepaardgaande aktiwiteite, ’n noodsaaklike ekonomiese inspuiting vir plaaslike ondernemings en die kerk.
Deelnemers kan vanjaar uitsien na ’n alternatiewe roete wat ’n ander, maar ewe indrukwekkende, kant van die Klein-Karoo ná die goeie reënseisoen sal uitlig. Die roetebeskrywing en profiel sal bekendgemaak word sodra alle formaliteite met rampbestuur en die betrokke owerhede afgehandel is.
Organiseerders sê hulle werk ook aan ’n unieke ervaring by sommige van die waterpunte om vanjaar se wedloop nog meer besonders te maak.
Inskrywings
Net soos die afgelope paar jaar sal inskrywings weer aanlyn via die webwerf www.meiringspoort21.com gedoen word.
Voorkeurinskrywings sal beskikbaar wees vir alle deelnemers wat die wedloop in 2025 voltooi het. Hierdie inskrywings open op 27 Junie om 06:00.
Die oorblywende inskrywings word op Saterdag 4 Julie om 06:00 vir die algemene publiek beskikbaar gestel.
Die inskrywingsfooi beloop R400 vir die 21,1 km-wedloop en R350 vir die 12,5 km-wedloop.
Die Entry Ninja-aanlyninskrywingsplatform word vanjaar weer gebruik. Deelnemers wat reeds van die platform gebruik gemaak het om vir ander wedlope in te skryf, sal weet dat die proses gebruikersvriendelik en doeltreffend is.
Navrae tydens die inskrywingsproses kan gedurende kantoorure gerig word aan 087 012 5044 of per e-pos aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’