Video
GEORGE NUUS - Nianke Fourie, 'n talentvolle jong atleet van George, maak opskudding in SA atletiek.
Sy verteenwoordig Laerskool George-Suid en blink uit in verspring, hekkies en naellope en is op pad na die SA junior kampioenskappe wat van 19 tot 21 Maart by die Groenpuntstadion in Kaapstad plaasvind.
Haar atletiekreis is reeds indrukwekkend. In Januarie het Fourie vier skoolrekords in een dag gebreek.
Sy het by die 2024 Kwagga Top-10-byeenkoms 'n 5.03 m-verspringrekord in die meisies o. 11-kategorie opgestel en het reeds die SA verspringrekord "onoffisieel" by Eden en Wes-Kaap gebreek. Die amptelike SA rekord is 5.29 m, maar Fourie het by beide byeenkomste 5.51 m gespring. Meer onlangs het sy haar skool by die Wes-Kaapse atletiekbyeenkoms in Maart verteenwoordig.
Vroeg in 2025 is sy tydens haar skool se atletiekbyeenkoms as junior victrix ludorum aangewys.
Niankie Fourie, ’n jong dame met baie charisma en vonk.
Foto: Marguerite van Ginkel
Fourie oefen van Maandag tot Vrydag vir sowat een en 'n half uur onder leiding van haar pa, Johnny Fourie, 'n voormalige sportman. Haar ouer broer, Jayden, is ook 'n bekende atleet en hulle motiveer mekaar. Fourie sê haar pa doen altyd sy beste vir hulle en sy waardeer die ondersteuning van haar ouers.
Buiten atletiek geniet Fourie ander sportsoorte soos netbal en tyd saam met vriende. Sy eet gesond in die dae voor kompetisies en geniet sushi op wedstryddae. Sy is ook lief vir pizza.
Nianke saam met haar pa en afrigter, Johnny Fourie. Foto: Marguerite van Ginkel
Haar raad aan ander jong atlete: "Gee jou beste, werk hard, moet nooit opgee nie en volg jou drome."
Haar uiteindelike doel is om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Met haar talent, toewyding en ondersteuning is Fourie ongetwyfeld een om in die komende jare dop te hou.
Kyk: Ons vra Nianke vyf prettige vrae oor haar oefening, wedstrydkos, broer en meer! Kyk hoe sy lag en haar passie vir atletiek deel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’