GEORGE NUUS - Prysgeld, medaljes en seer spiere wink vir die sportiewes wat eerskomende Saterdag aan die Madiba-padwedloop deelneem.
Die wedloop begin om 08:00 by Eenheidspark aan die bokant van Yorkstraat. Hierdie gewilde item op die dorp se sportkalender word aangebied deur Atletiek SWD, in samewerking met George-munisipaliteit.
Beide die 10 km- en 21,1 km-wedloop vind plaas in die oostelike gedeelte van George, en eindig weer by die beginpunt.
Atlete kan in drie afdelings deelneem, naamlik:10 km-padwedloop, 21,1 km-padwedloop en 'n pretloop oor 5 km. Die vooraf inskrywings vir die wedloop het reeds gesluit, maar laat inskrywings kan wel Saterdagoggend voor die wedloop vanaf 06:45 tot 07:45 by Eenheidspark in Yorkstraat gedoen word.
Inskrywingsgeld is R75 (21,1 km) en R65 (10 km). 'n Ekstra R20 is betaalbaar vir laat inskrywings. Atlete wat nie aan 'n klub behoort nie betaal 'n ekstra R35. Die inskrywingsgeld vir die pretloop is R20. Prysgeld aan die kategoriewenners beloop R2 000 vir beide mans en vrouens in die 21,1 km-wedloop en R1 000 aan beide mans en vroue in die 10 km. Medaljes sal uitgedeel word aan alle atlete wat die wedlope voltooi. Stappers is welkom.
Vir meer inligting kontak die Atletiek SWD se kantoor by 044 873 0023.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'