GEORGE NUUS - Speke word blink gevryf, potjies word afgestof en almal is in rep en roer by Laerskool Blanco ter voorbereiding van die jaarlikse Oubos MTB-marathon, wat hierdie jaar plaasvind op 23 Februarie, en geborg word deur Earp Construction en Lew Geffen Sotheby's International Realty.
Hierdie jaar is ekstra spesiaal, aangesien dit die resies se 25ste jaar vier, en ook die eerste jaar is waar skoolspanne van laer- en hoërskole gaan kompeteer vir 'n wisseltrofee. So alle skole word uitgedaag om die Laerskool Blanco-fietsryspan aan te vat, hulle was nie verniet die wenners van die Spur MTB-reeks en die 7Weekspoort MTB-resies nie!
Die resies is 'n tradisie wat deur die trotse ouers, onderwysers en leerders van Laerskool Blanco aangebied word, en is 'n prettige geleentheid vir oud en jonk! Die roetes neem die deelnemers deur die pragtige natuurskoon van die omringende berge en op paadjies deur privaat plase wat slegs vir hierdie resies beskikbaar gestel word.
Om almal te akkommodeer, is daar afstande van 10 km, 25 km, 50 km en 75 km by die bergfietsresies, en kontantpryse word toegeken aan die eerste drie plekke van elke resies. Vir diegene wat nie van fietsry hou nie, is daar ook 'n gesinstap van 5 km.
Terwyl die atlete swoeg en sweet op hulle fietse, staan die organiseerders reg met 'n verskeidenheid van heerlike eet- en drinkgoed. Die hoogtepunt van die bedrywigheid is beslis die tradisionele potjiekoskompetisie, waarby die hele skool betrokke is. Elke graad in die skool spog met sy eie unieke stalletjie, en 'n potjie wat noukeurig voorberei word.
Terwyl jy smul aan al die lekkernye kan jy luister na die troebadoer-stem van die geliefde plaaslike kunstenaar Michael Lindt en jou vergaap aan die buikspreker Jannie de Bruyn!
So maak 'n knoop in jou oor, en kom geniet 23 Februarie saam met ons!
Die resies is 'n tradisie wat deur die trotse ouers, onderwysers en leerders van Laerskool Blanco aangebied word, en is 'n prettige geleentheid vir oud en jonk!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'