ATLETIEK NUUS - Hoërskool Outeniqua loop breë bors rond want 18 van sy leerlinge is gekies vir die Eden-span wat op 1 April aan die SA tweekampkampioenskappe te Coetzenberg, Stellenbosch gaan deelneem.
Die span is op die oomblik besig met voorbereidings en vertrek op Vrydag 31 Maart na Stellenbosch.
Tweekamp bestaan uit twee sporte wat apart plaasvind. Dit is hardloop en swem. Dit werk op 'n puntestelsel en dit word bymekaargetel.
Dit is die eerste keer sedert 2016 wat die skool soveel atlete het wat deelneem. Tweekamp is ‘n skoolsport en is 'n groot prioriteit by die skool. Die sport groei en daar is belangstelling.
Die afrigter, Esrie Loock, sê dit is nie alledaags dat jy 'n atleet kry wat in beide ewe goed is. Dit verg tyd.
Volgens haar is tweekamp 'n unieke sport. "Dit is 'n individuele sport, maar ook 'n spansport as jy dit in skole of vir jou provinsie doen. Die meeste punte vir jou skool of provinsie maak jou die wen span.
“Ons kinders is passievol en toegewyde kinders met harte van goud en dit maak die spanpoging vir prestasie soveel makliker. Ek het 'n noue band met elkeen van hulle en maak elkeen 'n prioriteit.”
Sy het gesê Eden vorder elke jaar beter en die sport groei. “Ons as skool en deel van Eden het verlede jaar die beker gewen by SA’s vir Beste Hoërskool met die meeste punte uit al die provinsies.
"Ons oefen vier dae van die week by die skool en oor 'n naweek kry hulle 'n program om te volg of hulle hardloop ander wedlope of swem gala’s.
"Baie van die kinders doen ook ander sporte soos byvoorbeeld driekamp, duathlon, biathle, triathle en laser hardloop (moderne pentathlon).
"Wat tweekamp ook so uniek maak is die feit dat kinders, ouers, oupas en oumas kan deelneem. Dit is 'n absolute familiesport en kan 'n hele familie fiks en gesond hou. Ek raai elke ouer aan om te kom probeer."
Die span het verlede Woensdag, 15 Maart, pragtige handdoeke en waterdagsakke ontvang wat gemaak is deur Marguerite van der Merwe van Piekant Picnic. Die span word geborg deur die Garden Route-swemskool van Franna & Riana Vorster, Kwagga-ouers en Piekant Picnic.
Die geleentheid is deur onder meer Christo Vorster, hoof van die skool, bygewoon.
Die span, die skoolhoof Christo Vorster, afrigter en borge tydens 'n geleentheid verlede Woensdag by die skool.
Die span is:
- Carlo Bezuidenhout o. 15
- Marilie Duvenage o. 17
- Petro-Marié Fourie (spankaptein) o. 19
- Favian Swart o. 17
- Tiaan Visser (span kaptein) o. 19
- Emma Neethling o. 15
- Yedidah Theron o. 19
- Larissa Badenhorst o. 17
- Lizandri Koen o. 15
- Ruan Coetzee o. 19
- Zani Vermeulen o. 17
- Carli Dippenaar o. 17
- Mieke van der Walt o. 17
- Kodi Minnie o. 17
- Mia Neethling o. 19
- Micke Janse van Rensburg o. 19
- Daniel Kolver o. 17
- Mia Botha o. 17
Afrigter: Esrie Loock
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'