Gallery
GEORGE NUUS - Die 14-jarige Gizele Young van Glenwood House het Woensdagmiddag uitsonderlike prestasies gelewer in die dogters o.14-ouderdomsgroep by die Prestige-atletiekbyeenkoms wat by Glenwood House aangebied is.
Glenwood House, Oakhill van Knysna, York High en Curro Mosselbaai se leerders het mekaar die stryd aangesê.
Gizele, wat die junior victrix ludorum-beker gewen het, was met haar 2 219 punte wat sy ingesamel het, ongetwyfeld die beste atleet van die dag.
Young het rekords opgestel in die 90 m-hekkies (14:70 vir 817 punte), 100 m (13:30 vir 706 punte), 200 m (28:20 vir 696 punte) en verspring (4,65 m vir 548 punte).
Micaela Kirsten, (dogters o.17) ook van Glenwood House, het met die 2 062 punte wat sy ingeoes het, die senior victrix ludorum-beker ontvang. Verlede jaar toe sy nog 'n leerder by Curro Mosselbaai was, het sy die junior victrix ludorum-beker ingepalm.
Kirsten het rekords opgestel in die 400 m (1:03.40 vir 712 punte), 200 m (27:80 vir 684 punte) en 100 m-hekkies (17:60 vir 666 punte). Sy was tweede in die 100 m (13:80 vir 624 punte).
Die belowende Roelof Naude van Glenwood House (seuns o.14), het met sy 1624 punte die junior victor ludorum-beker ontvang. Naude het 'n vierkuns behaal deur die eerste oor die wenstreep in die 100 m (12:50 vir 596 punte), 200 m (26:50 vir 560 punte), 400 m (1:04.80 vir 468 punte) en 800 m (2:39.70 vir 210 punte) te wees.
Die talentvolle Ewert Pretorius, ook 'n leerder by Glenwood House (seuns o.17), wat 1734 punte behaal het, het die senior victor ludorum-beker gewen.
Pretorius het die gewigstoottitel met 'n afstand van 12,54 m (562 punte) gebuit. Hy was derde in die volgende items: 100 m (12:20 vir 591 punte), 200 m (25:40 vir 581 punte) en verspring (5,37 m vir 340 punte).
Die volgende atlete is in hul onderskeie ouderdomsgroepe aangewys vir die beste individuele prestasie van die dag:
- Dogters o.14: Gizele Young (Glenwood House).
- Seuns o.14: Roelof Naude ( Glenwood House).
- Dogters o.15: Luranne Meyer (York High).
- Seuns o.15: Christopher Buckley (York High).
- Dogters o.17: Lincy Gondwe (Glenwood House).
- Seuns o.17: Cohen Gallant (York High).
- Dogters o.19: Genevieve Young (Glenwood House).
- Seuns o.19: Louis du Pisanie (Curro Mosselbaai).
ARTIKEL & FOTO'S: ANDRE STANDER
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'