GEORGE NUUS - Die Olimpiese langafstandatleet Elroy Gelant (37), met diep wortels in Pacaltsdorp, sê hy mik vir 'n plek in die top-15 in vanjaar se Olimpiese spele na hy onlangs vir die SA marathonspan gekies is.
Gelant en spanmaat, Stephen Mokoka, sal Suid-Afrika in Augustus by die Olimpiese spele in Parys, Frankryk verteenwoordig.
"Gebaseer op my fiksheid die afgelope ses maande voel ek vol vertroue dat ek in die top-15 of selfs top-10 kan eindig," sê Gelant.
Hy het op 28 April die Durban Internasionale Marathon gewen met 'n tyd van 2:09:32 en op 18 Februarie het hy 26ste in die Zurich Maratón de Sevilla in Sevilla Spanje geëindig met 'n tyd van 2:08:56.
Hoewel sy tyd in Spanje net-net nie vinnig genoeg was vir outomatiese kwalifikasie vir die Olimpiese spele, wat 'n tyd van 2:08:10 verg, het Gelant steeds verwag om weens sy wêreldrang vir een van die 80 beskikbare plekke te kwalifiseer.
Altesaam 70 drawwers het outomaties gekwalifiseer weens hul tyd, maar die besluit is geneem om die laaste tien plekke met universaliteitsdeelnemers en nie wêreldrangdeelnemers te vul nie.
Die Olimpiese spele maak voorsiening vir universaliteitsdeelnemers vir lande met geen kwalifiseerders nie en in die geval van baan en veld kan hulle vir die 100 m, 800 m of die marathon inskryf.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) kon wel die Wêreldatletiekorganisasie oorreed om die aantal plekke vir die Olimpiese marathon te vermeerder wat daartoe gelei het dat Gelant gekies is.
Suid-Afrika se mansmarathonspan het net twee deelnemers uit 'n maksimum van drie. Die SA vrouemarathonspan het drie deelnemers, Gerda Steyn, Cian Oldknow en Irvette van Zyl, wat outomaties gekwalifiseer het.
Gelant sê hy sien uit om Suid-Afrika saam met die ervare marathondrawwer, Mokoka, te verteenwoordig. Hulle het al baie teen mekaar gekompeteer en hy glo alhoewel hulle nie saam oefen nie kan hulle goeie resultate lewer as hulle saamwerk.
"By die Olimpiese spele gaan dit oor taktiek en medaljes, nie oor tyd nie," sê Gelant.
Hy het by die Tokyo 2020-spele 34ste in die marathon en by die Rio 2016-spele 13de in die 5 000 m geëindig.
Gelant is tans 'n lektor in menslike-hulpbronnebestuur by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, maar kuier nog gereeld vir sy familie in Pacaltsdorp.
"Ek gaan nog gereeld na George, want my hele familie is daar. Ek het onlangs 'n huis in Pacaltsdorp gebou en vakansietye gaan ek altyd soontoe," sê hy.
Vakansietyd is ook oefentyd en wanneer hy in George is, oefen hy graag saam met die ervare langafstanddrawwer, Lloyd Bosman.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’