GEORGE NUUS - Elroy Gelant van Pacaltsdorp is Saterdag aangewys as die land se tophardloper onder manspadatlete toe hy 'n welverdiende toekenning van Atletiek Suid-Afrika (ASA) ontvang het as die 2024 Buite Stadion Mansatleet van die Jaar.
"Dit was tussen my en verlede jaar se wenner van die Two Oceans [Onalenna Khonkhobe]. Dis so 'n spesiale verering en dit was 'n ongelooflike oomblik.
"Dis vir my nie net 'n erkenning vir al die harde werk, vroegoggende se opstaan en lang afstande wat ek aflê nie, maar ook vir die ongelooflike ondersteuning wat ek ontvang en vir my Godgegewe talent. Ek doen dit nie alleen nie," het Gelant aan George Herald gesê.
2024 was vir hom 'n uitstekende jaar. Hy was die manswenner in beide die SA halfmarathonkampioenskap en SA marathonkampioenskap en het 'n 11de plek by die Olimpiese Spele behaal. "Ek dink dit was deurslaggewend vir die toekenning."
Gelant, wat vanjaar 39 jaar oud word, sê tussen al die suksesse deur was verlede jaar ook 'n jaar van introspeksie vir hom.
"Ek het begin wonder wat die ware doel van my hardlopery is. 'n Mens raak ouer en verlede jaar het ek begin dieper delf in myself.
"By die wegspring van die Olimpiese Spele was ek erg op my senuwees en ek het myself afgevra waarom?
"Dis toe dat ek besef het ek doen hierdie nie vir myself nie. Ek hoef nie bang te wees nie. Ek hardloop om 'n inspirasie vir ander te wees, vir daai klein laaitie wat daar in Suid-Afrika sit om my op TV dop te hou."
Sy program vir 2025 is reeds vasgelê. Sy fokus gaan vanjaar meer internasionaal wees en hy skop af met 'n halfmarathon in Hong Kong volgende week, dan nog 'n 21 km in België in Maart voordat hy 'n 42,2 km in Hamburg in April aanpak.
Sy groot doelwit vir die jaar is om onder die top-5 te wees in die marathon by die Wêreldatletiekkampioenskap in Tokio wat in September plaasvind.
"Ek gaan bou op verlede jaar en gaan die jaar gebruik om my te lei en te motiveer. Ek is baie positief oor wat die nuwe jaar inhou."
Elroy was o. 9 toe hy begin hardloop het. Hier is hy in aksie by 'n interskole-geleentheid in Pacaltsdorp.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’