GEORGE NUUS - Met die Covid-19-pandemie wat sport oral gekelder het, kon Eden-driekamp die afgelope Sondag by Groot-Brakrivier sy eerste ligabyeenkoms vir die seisoen aanbied.
Ten spyte van streng Covid-19-regulasies het 'n verbasend groot aantal atlete hul opwagting gemaak, uitgehonger vir 'n byeenkoms om aan deel te neem.
Die bestuur van Eden-driekamp het atlete bedank vir hul samewerking met betrekking tot die nuwe reëls en protokolle, wat hulle nougeset gevolg het.
Gerhard Liebenberg, voorsitter van Eden-driekamp, het gesê dis verblydend om te sien dat heelwat juniors wat sedert hul kleuterdae aan Eden-driekamp se byeenkomste deelgeneem het, nou ook by die senior byeenkomste begin presteer.
Eden-driekamp se volgende ligabyeenkoms word vir 10 Januarie aanstaande jaar beplan. Die geleentheid is uiteraard onderhewig aan die finale goedkeuring van die owerhede. Almal is welkom om deel te kom neem - beginners, spanne en bergfietsryers ook.
Belangstellendes kan Eden-triathlon se Facebook-blad besoek vir meer inligting of vir Corné Hattingh kontak by 083 289 2544 of per e-pos by edentriathlon@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'