GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Georgiet Annetjie Botes (65) het haar die afgelope Sondag 26 Februarie in die geskiedenis-boeke ingehardloop toe sy die 50 km-wêreldrekord in die ouerdomsgroep 65-69 tydens die Nedbank Runified in Gqeberha verbeter het. Die nuwe rekord van 4 ure, 12 minute en 36 sekondes staan nou agter dié ouma van drie se naam.
Maandag het sy in 'n onderhoud met George Herald gesê sy kan steeds nie glo dat sy hierdie prestasie behaal het. "Ek is nog oorstelp."
Botes vertel dat sy op skool aan kortafstande deelgeneem het en die afgelope 20 jaar aan langafstande. Sy was nog altyd lief vir sport en het aanvanklik begin met 5 km- en 10 km-wedlope.
Later het sy die Comrades aangedurf en dit al drie keer voltooi. Sy het ook 13 Twee Oseane-marathons op haar kerfstok en is van plan om dit weer vanjaar aan te pak.
Slegs genooide atlete kon aan Sondag se wedloop deelneem. Dit was alles deur die toedoen van die bekende Nick Bester dat sy aan die Nedbank Runified 50 km-wedloop in Gqeberha deelgeneem het. Die mikpunt vir deelnemers was om wêreldrekords op te stel.
Deelnemers het in verskillende ouderdomgsroepe gehardloop. Sy was die enigste vrou in haar groep en die oudste deelnemer.
VIDEO: Ouma stel wêreldrekord op
Volgens haar was dit 'n groot uitdaging, maar sy het goed gevoel. Hulle het reeds die oggend om 05:30 begin en genadiglik het die wind gaan lê. Die wedloop het baie naby aan die see plaasgevind.
Sy het geweet as sy haar pas kon volhou, kan sy die rekord breek. Tot by die 35 km-merk het sy nog gedink sy kan die rekord breek, maar daarna het sy nie meer geweet nie.
In die geheel gesien was dit 'n moeilike wedloop en veral die laaste 10 km was 'n groot uitdaging.
Direk na die wedloop het sy geweet sy het die rekord verbeter. "Dis baie om te verwerk. Ek is baie dankbaar en dis 'n voorreg."
Annatjie Maandag saam met een van haar kleinkinders Lisa (3).
Botes hardloop onder die vaandel van die Nedbank ASWD-klub. Gewoonlik oefen sy ses dae per week. Sondae rus sy en bring tyd saam met haar familie deur. Sy het benadruk sonder die steun van haar man, Fanie, kinders, familie en vriende sal sy nie so kan hardloop nie.
Sy wil nog vir so lank as moontlik hardloop. "Ek is bevoorreg om gesond te wees en nog te kan hardloop. Dis net die liewe Vader wat dit moontlik maak."
As sy nie hardloop nie, bring sy graag tyd saam met haar drie kleinkinders deur. Veral die oudste kleinkind, Lisa (3) is bewus van haar ouma se prestasies. "Sy is baie mal oor my medaljes."
Botes moedig mense aan om te hardloop. "Dis goed vir jou gesondheid en help met stresverligting."
Annatjie tydens Sondag se wedloop.
Annatjie Botes word Sondag na die wedloop gelukgewens met haar prestasie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'