Verskeie talentvolle swemmers van Laerskool Outeniqua het hul staal gewys by die SA streekvlak 2-kampioenskappe, wat van 6 tot 8 Maart by die NA Smit-swembad in Oudtshoorn plaasgevind het.
Die vlak 2-kampioenskappe vorm deel van die amptelike mededingende ontwikkelingspad van SA swem en bring gekwalifiseerde swemmers van regoor die streek bymekaar om op 'n hoë vlak mee te ding.
Die Outeniqua-span het sterk verto-nings gelewer, met verskeie swemmers wat persoonlike beste tye, finale plekke en podiumplekke behaal het.
Rohan Botha was een van die uitblinkers met twee goue medaljes (50 m-vlinderslag en 50 m-vryslag) asook silwer in die 100 m- en 200 m-vryslag.
Bastiaan Botha het brons in die 50 m-vryslag gewen, terwyl Joshua Burrows 'n bronsmedalje in die 200 m-vryslag verower het.
Connor Simpson het ook goed gevaar met brons in die 100 m- en 200 m-rugslag. Die seuns het verder saamgespan om silwer in die 12 en onder 4x50 m-vryslagaflos te behaal.
Mikayla Botes het silwer gewen as deel van die gemengde 13 tot 14 afdeling vir die (4x50 m) wisselslagaflosspan, terwyl Aninka Terblanche ook silwer verower het in die vroue 15-16 afdeling vir die (4x50 m) vryslagaflos.
- Saamgestel deur Michelle Pienaar