SKOLENUUS - As daar een ding is wat Pacaltsdorp Primêr se Vibe and Chill Saterdag bewys het, is dit dat 'n bietjie reën beslis nie 'n goeie partytjie kan stop nie.
PPS se skoolterrein is in 'n reuse-kuierplek omskep tydens een van hul grootste fondsinsamelings van die jaar met oudleerders, ouers, vriende en bekendes wat behoorlik gekuier het.
Verskeie bywoners het dit as 'n skoolreünie beskou waar ou skoolmaats mekaar raakgeloop het, stories uitgeruil het en die dansskoene behoorlik werk gekry het.
PPS-opvoeder, Muschka Manuel (links) en Shannen Botha. Foto: Verskaf
Toe die reën saggies begin uitsak, het niemand huis toe gehardloop nie. Nee wat! Almal het gereed gekom met hul gazebos en kampstoele.
Reën of nie, die Vibe en Chill moes voortgaan. Van die eerste beat tot die laaste danspassie was daar 'n lekker gees van saamkuier en gemeenskap.
Een van die groot trekpleisters was natuurlik die optrede van die Kaapse DJ en radio-omroeper Masoodah.
PPS se eie Enver Arries, maar agter die draaitafel DJ Eazy E, Smiley the DJ, DJ Ranie, DJ Aiden en Super T, het op hulle beurt die verhoog en dansvloer behoorlik aan die beweeg gekry.
DJ Eazy E agter die draaitafel. Foto: Verskaf
En met die plaaslike smaakmakers, Dimitri Unfiltered en Leeroy Balata, agter die mikrofoon was daar geen tekort aan grappies, energie en vermaak nie. Die reën het dalk geval, maar die vibes by PPS was vuurwarm.
Dimitri Unfilitered. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’