SKOOL NUUS - Afrikaanse skoolleerders van George met ’n passie vir musiek en kuns word genooi om deel te neem aan Afrikaans.com se 'Skilder met Woorde'-kompetisie, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word.
Die kompetisie, wat oorspronklik in 2021 bekendgestel is, het groot sukses behaal en groot belangstelling onder leerders regoor die land ontlok.
Volgens die organiseerders is die projek weer van stapel gestuur ná talle versoeke van ouers en deelnemers wat by die eerste kompetisie betrokke was.
“Die inskrywings van ons eerste kompetisie het ons oorweldig. Ek is ’n groot voorstander van kuns in skole, en daarom is dit belangrik om so ’n kompetisie aan leerders voor te stel. Dit gee ook die geleentheid aan leerders wat tuis onderrig word, om hulle kreatiewe talente uit te leef,” sê Elsie Jooste, kunstenaar en projekorganiseerder.
Musiek word kuns
Die konsep moedig leerders aan om Afrikaanse liedjies visueel te interpreteer en dit in kunswerke te omskep. Vanjaar kan deelnemers uit 15 bekende Afrikaanse liedjies kies, wat strek van klassieke treffers tot moderne musiek.
Volgens Jooste is die doel om verbeelding te stimuleer: “Die liedjies wat ek sorgvuldig gekies het, sing ’n prentjie. Wanneer leerders na die liedjies luister, kan hulle ’n beeld vorm wat vir hulle uitstaan.”
Die lys sluit onder meer treffers in soos Lappop (Carike Keuzenkamp), Kinders van die Wind (Laurika Rauch), Sonvanger (Valiant Swart), Groen Trui (Jan Blohm) en Verander (Spoegwolf).
Bekende beoordelaars en nuwe projek-element
Inskrywings sal deur Elsie Jooste en die musikant en kunstenaar Jan Blohm beoordeel word. Werke sal geëvalueer word op uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek, en leerders mag in enige kunsmedium werk.
"Met die beoordeling van die kunswerke gaan ons kyk na die uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek van elke kunswerk,” verduidelik Jooste.
’n Nuwe en unieke toevoeging tot vanjaar se projek is ’n mobiele kuns- en bewusmakingsinisiatief. ’n Kombi, wat voorheen gebruik is om skoolleerders te vervoer, is omskep vir die projek en sal skole besoek. Leerders sal selfs die geleentheid kry om die voertuig kreatief te verander. Die kombi se reis kan ook op sosiale media gevolg word.
Hoe om in te skryf
Leerders moet een van die 15 gekose liedjies kies en ’n kunswerk daarop gebaseer skep. ’n Hoëresolusie-foto van die voltooide werk moet saam met die leerder se besonderhede per e-pos gestuur word na [email protected].
Inskrywings open sluit op 3 Julie. Wenners word in die eerste week van Augustus aangekondig. Tuisskoolleerders word ook aangemoedig om deel te neem.
Pryse op die spel
Deelnemers ding mee om kontantpryse ter waarde van R28 000, met afsonderlike kategorieë vir laerskool- en hoërskoolleerders.
Die eerste prys in beide kategorieë is R3 000 vir die leerder, asook R8 000 vir die betrokke skool. Tweede en derde plekke ontvang onderskeidelik R2 000 en R1 000.
Vir volledige kompetisiereëls en vorige wenners kan belangstellendes die Afrikaans.com-webwerf besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’