GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr spog met ’n indrukwekkende 95,6% slaagsyfer vir sy 2025-matriekklas - bykans 2% hoër as verlede jaar se 92,7%.
Skoolhoof Phillip Rothman was in sy noppies met die uitslae en het tydens ’n geleentheid waar die matriekuitslae Dinsdag 13 Januarie aan die leerders bekend gemaak is, gesê die dag is ’n viering van hoe ver die matrikulante gekom het, die uitdagings wat hulle oorkom het en die groei wat dit meegebring het.
Volgens Rothman verlaat die leerders die skool nie net met akademiese kennis nie, maar ook met weerstandsvermoë, ervaring en die gereedskap om hul eie toekoms te vorm.
Hulle is aangemoedig om nie vir toestemming te wag of vrees hul pad te laat bepaal nie, maar om met moed en nuuskierigheid die wêreld tegemoet te tree.
Die skool se toppresteerder, Paulton November, was die enigste A-kandidaat en beplan om vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.
Die matriekklas het altesaam sowat 15 A-simbole in verskeie vakke behaal. Uit die 181 leerders wat die eindeksamen afgelê het, het 173 geslaag.
Graadhoof Ian le Roux saam met die drie toppresteerders Paulton November (middel), Lutho Noorman (regs) en Jo-Nique October. Foto's: Kristy Kolberg
Skoolhoof Phillip Rothman saam met Charlise Jantjies ná sy haar uitslae ontvang het.
Monté Lucas, Isauline Reuns en Shannon Williams.
Jonathan Olifant kon wegstap met ’n groot glimlag. Saam met hom is sy ma, Veronique Solomons (links) en onderwyser, Jermaine Arendse.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’