BLOG - Ons word elkeen geken op die naam wat ons verkies. Jy stel jouself immers voor aan mense deur die naam te gebruik wat jy graag genoem wil word. Dit is heel dikwels nie die naam op jou doopsertifikaat of jou ID nie.
Maar jou naam is jou naam en by jou volle name op jou ID sal jy by die departement van binnelandse sake, en op alle rekords waar jy aangeteken is, herken word.
Maar, ek sit en wonder. Hoe nou gemaak met Eurythmijellica-Roshindiyandi van der Leeuwenhof-van Niekerk-van de Grendel as sy wakkerword na narkose? Hoe roep die Suster aan diens die pasiënt wat uit die diepe slaap moet ontwaak. Of hoe soek hulle die vrou op die lughawe as sy laat is vir haar vlug?
En die arme Eurythmijellica sit nou van kleins af met die probleem, want haar naam pas nie op die plakker wat op haar potloodkryt geplak moet word nie, en dit maak die plakker wat op haar skoolboeke moet kom net so breed soos die boek.
Behalwe dit, leer sy bykans die hele alfabet om haar naam net te kan skryf, en hoe lank het sy gevat om haar eie naam te sê? Haar naam pas ook nêrens op 'n aantekenregister,
'n presensielys is 'n nagmerrie, en hoe vul sy daardie naam in op die blokkies van die bank se vorms? Wat op aarde staan op haar bankkaart?
Dan wonder ek ook, wie in haar familie kan dit reg spel, en hoe het haar pa onthou wat die nuweling se naam is, of het hul reeds vir nege maande voor haar geboorte geoefen om die grootste naam te sê en te spel? Dalk met 'n A4 op die yskas vasgeplak, of op die almanak agter die toilet se deur?
Wat my egter heeltemal ten gronde laat gaan is dat Eurythmijellica-Roshindiyandi dit goedgedink het om haar volle naam en volle rits vanne as haar e-pos adres te gebruik, met net @gmail.com agterna.
Nou die kuns van naamgee is duidelik nie vir almal ewe gerieflik en maklik nie. Die een verkies familiename, die ander wil sover moontlik daarvan wegbly, want hulle hou nou net mooi niks van oupa of ouma nie en wil hulle nie vernoem nie. Sommige ouers gebruik eerder afkortings, samestellings, of nuutskeppings om die baba 'n heel nuwe vreemde naam te gee, ander gebruik weer bloot die voorletters. Maar met die naam wat baba gekry het, sal hy of sy deur die lewe gaan.
Om ons troeteldiere 'n naam te gee as die klein wollerige of gespikkelde diertjie in ons lewens verskyn, skep ook dikwels groot probleme. Vernoem jy graag jou gunsteling rugbyspeler of filmster, dan moet jy tog net onthou, jy mag nie die troeteldier registreer op daardie naam nie. Want geen lewende bekende se naam mag gebruik word vir 'n geregistreerde troeteldier nie. Cyril, Bismarck en Faffie gaan dus glad nie aard nie.
Dan is daar natuurlik ook diegene wat hou by een naam. My dierbare swaer het Spottie verkies. En hy het in sy lewe 'n hele rits honde grootgemaak met die naam. Of hul nou gespikkeld was of nie, het al die Spotties met trots reageer op hul naam, en was ook graag agter op die plaasbakkie. 'n Vriend het weer Wollie verkies.
'n Gladde, korthaar Weimaraner is deur die lewe as Wollie, en dit het Wollie geensins gepla nie, want sy voorganger was eers 'n skaaphond en die is opgevolg deur 'n Maltese poedel. Maar Wollie was Wollie en die veearts het ook geweet dat Wollie se van Louw is.
Nou hier by ons blyk dit dat Jas as basis gebruik word, want toe ek nou vanmôre so aan die name dink, toe besef ek, in hierdie huis was daar al 'n Woljas, 'n Vaaljas en tans 'n Asjas.
Ek is dus die laaste een om my uit te spreek oor name, want waar ek graag vir my huiskatte 'n hogere koninklike naam sou wou gee, het ek nou Sy Edele Doors en sy Edele Asjas.