OPINIE - Mossel Bay Advertiser het onlangs berig oor skilpaaie by Harry Giddey Park op Mosselbaai, wat op versoek van die Mosselbaai-munisipaliteit deur die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging van die perseel verwyder is.
Ná die verwydering moes die skilpaaie van kant gemaak word.
Die rede vir die drastiese besluit is omdat die skilpaaie siek was met 'n aansteeklike lugwegsiekte, wat deur 'n onberispelike bron ná 'n volledige ondersoek bevestig is.
Die munisipaliteit was die permithouer van die diere in die park en is die outorititeit wat die park bestuur.
Die munisipaliteit was dus verantwoordelik vir die diere se welstand.
Nadat die Advertiser bewus geword het van die skilpaaie wat van kant gemaak is, is 'n lys van vrae aan die munisipaliteit gestuur.
Die joernalis het ook vrae aan ander partye soos die DBV en Cape Nature gestuur.
Artikels, op grond van die feite en kommentaar wat ontvang is, is die afgelope twee weke gepubliseer. Vrae wat deur die munisipaliteit onbeantwoord gebly het, is ook gepubliseer.
Eenvoudige feite oor die saak is: 'n Groot getal skilpaaie is van die perseel verwyder en moes van kant gemaak word en die permit vir die aanhou van dié spesie, het reeds in 2022 verval.
Wanneer 'n instansie soos die munisipaliteit gesag afdwing word daar ook verwag dat die instansie sy eie reëls sal nakom.
Hoewel uitgebreide vrae deur die Advertiser aan die munisipaliteit gestuur is, was die antwoorde wat tot op hede ontvang is nog nie volledig nie. Dit wil ook voorkom of van die vrae gesystap word.
Burgemeester Dirk Kotzé het die afgelope Maandag, 4 November, in 'n verklaring na die aangeleentheid verwys en gesê: "In die onlangse verlede het spekulasie in koerantberigte en op sosiale media verwarring gesaai oor gebeure in die Harry Giddey Park wat daartoe gelei het dat die diere wat daar gehou is, deur die munisipaliteit aan die Garden Route Mosselbaai DBV, die gekontrakteerde munisipale skut, oorgegee is. Spekulasie dra slegs by om 'n reeds moeilike, selfs emosionele situasie met waninligting te vertroebel."
Ek aanvaar die burgemeester verwys na ander media in dié verband. Die Advertiser publiseer nie stories wat op spekulasie gebaseer is nie.
Deur vrae te vra en artikels op grond van feite en kommentaar wat ontvang is te skryf, doen die Advertiser net sy werk en die gemeenskap verdien antwoorde.
Dit is dus goed om te verneem dat Kotzé in sy persverklaring sê dat daar 'n omvattende ondersoek na die aanloop tot, en verloop van gebeure gelas is.
Daar kan nie minder as dit verwag word nie.
Dit is bykans 'n maand sedert die skilpaaie verwyder en van kant gemaak is en tot op hede het geen party eienaarskap van die gebeurtenis geneem of verantwoordelikheid vir wat gebeur het, aanvaar nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’