GEORGE NUUS - Voorbereidingskool George se herwinningsprojek, wat in samewerking met die Landmark Foundation, Henque Waste en George-munisipaliteit gedoen word, groei van krag tot krag sedert dit in Maart 2022 begin is.
Die doel van die projek is om elke kind daarvan bewus te maak dat hulle 'n verskil in die omgewing kan maak en dat elke item wat herwin word die omgewing 'n skoner, beter en gesonder plek maak.
Daar is etlike verhale van hoe die kinders hul familie en bure inspireer om ook te herwin.
In die afgelope jaar, van November 2023 tot November 2024 het die Voories meer as 8 300 kg materiale herwin. Hiervan is die meeste plastiekbottels, doppies, blikkies, broodknippies, boksie-bottels, karton en papier. Hulle het hierdie jaar meer as 120 000 plastiekbottels herwin.
Daar is 'n toegewyde groep gr. 3-kinders wat elke oggend help om die herwinbare produkte te tel, op te teken en te sorteer met ondersteuning van onderwysers, klashulpe en tannie Christelle wat help om die projek te bestuur.
Die Voories herwin massas afval.
Die groep is so entoesiasties oor die omgewing en om 'n verskil te maak dat hulle hierdie jaar 'n herwinningsliedjie gekomponeer, klere van herwinde materiale ontwerp het en ook 'n prototipe opvoedkundige herwinningsvideo vir die skool gemaak het.
In kwartaal 4 het die gr. 3-leerders begin om van die gr. 2-leerders op te lei sodat hulle volgende jaar met die belangrike taak van tel, opteken en sorteer kan voortgaan.
Verskeie wurmplase se wurmtee word in die groentetuintjies gebruik.
Wurmplase
Die skool het ses werkende wurmplase. Die wurmtee en -kompos word weer gebruik om die groentetuin en hidroponiese stelsel te voed.
In elke klas is bokse met blou herwinningsakke waar papier en plastiek herwin word.
In die gr. 1-klasse is daar herwinningstasies, ontwerp en gebou deur juffrou Colette Rossouw se pa. Die hout is deur Davidson Boards geskenk.
Op die terrein was daar die jaar drie komposstasies, geskenk deur George-munisipaliteit, waar die blare herwin en kompos gemaak word wat in die groentetuin gebruik word. In die groentetuin leer kinders ook oor plante, grond en goggas.
Die leerders proe, voel, plant, pluk en ruik van die spinasie, blaarslaai, kruie en blomme.
Almal betrokke sien uit na nuwe uitdagings in 2025 en is opgewonde om die projek verder te ontwikkel.
Die leerders en onnies sorteer self die glas, plastiek en papier.
Entoesiasties oor 'n groen planeet.
'n Groepie leerders hou noukeurig boek van elke kilogram afval wat herwin word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’