GEORGE NUUS - Heidedal Primêr spog met 'n splinternuwe heining en elektriese motorhek, asook 'n nuwe hek vir beheerde voetgangertoegang.
Lionel Coetzee, voorsitter van die skoolbeheerliggaam, sê dis 'n baie welkome verbetering.
"Die skool het vir vyf jaar gesukkel met onwettige betreding van die skoolterrein, inbrake en vandalisme weens die ou heining waarvan groot dele nie meer bestaan het nie.
"Enigiemand het vrye toegang tot die eiendom gehad en ons kinders en onderwysers se veiligheid was in die gedrang. Ons is baie dankbaar teenoor die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) wat die groen lig gegee het onder die Veilige Skole-program."
Die onderwyserverteenwoordiger op die beheerliggaam, Benjamin Syfers, sê onderwysers en leerders is verlig. "Ons kan nou veilig parkeer en wanneer leerders pouses op die skoolterrein speel, doen hulle dit in veiligheid. Dis 'n geweldige verbetering."
Die naambord en onderwysers se motors, veilig agter die nuwe heining.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’