GEORGE NUUS - George Herald het die afgelope paar weke talle klagtes van inwoners ontvang wat op een of ander slinkse manier deur swendelaars ingeloop is.
In een van dié gevalle het 'n vrou van Conville 'n slagoffer van behuisingsbedrog geword.
"Mense moet báie versigtig wees wie hulle vertrou en vir wie hulle hul geld gee," sê dié voornemende huiseienaar ná sy meer as 'n jaar gelede glo deur 'n vrou van Pacaltsdorp ingedoen is.
"Ons sou in Maart 2020 'n huis by haar koop, maar sy wou nooit gehad het ons moet na die huis gaan kyk nie. Ons kon slegs daar verbyry. Sy was egter só oortuigend en sjarmant, dat ons haar baie geld vooruit vir die huis betaal het. Tot vandag toe het ons nie 'n huis of 'n kontrak nie," vertel die slagoffer wat verkies om anoniem te bly.
Daar is glo ook reeds talle ander mense in Pacaltsdorp en omgewing deur dieselfde vrou ingedoen. 'n WhatsApp-groep is ook gestig vir mense wat deur die persoon ingedoen is.
"Sy doen haar voor as 'n eiendomsagent wat huise names ander koop en verkoop. Intussen is sy niks meer as 'n swendelaar wat mense soos ek se laaste geld vat en loop nie. Dit gaan nie net oor die geld wat ons verloor het nie, maar die drome. Drome om vir ons kinders eendag 'n huis na te laat," sê die slagoffer.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat vier sake van bedrog by die Conville-polisiestasie teen die vrou aanhangig gemaak is.
"Ons kan bevestig dat vier gevalle van bedrog aangemeld is en deur die Conville-speurders ondersoek word na aanleiding van die bewerings wat teen die persoon gemaak is. Ons wag tans op dokumente waarvoor ons by die betrokke bank aansoek gedoen het om die verdagte se rekeninge noukeurig te ondersoek. Dieselfde geld vir die munisipaliteit, met betrekking tot die eienaarskap van huise wat geïmpliseer word. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die dossier aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê word vir 'n besluit," sê Spies.
Die verdagte se waarskuwingsverklaring is ook reeds by die dossier gevoeg.
George Herald het telkemale probeer om die verdagte te kontak, maar was onsuksesvol.
Een van die talle advertensies vir 'n woonstel in Standerstraat, wat op verskeie plaaslike Facebook-blaaie geadverteer is. Die kontaknommers in dié advertensie, asook kontaknommers wat vir ander advertensies gebruik is, bestaan nie meer nie.
Verhuringsfopspul
In 'n afsonderlike geval is 'n vrou van George verlede maand ingedoen toe sy 'n tuinwoonstel in Standerstraat wou huur. Die woonstel is op 'n Facebook-blad geadverteer teen R5 500/maand en as dierevriendelik beskryf. Sonder om te huiwer het die voorenemende huurder die verhuurder gekontak om reëlings te tref.
Advertensies vir die woonstel word geplaas deur gebruik te maak van gekloonde of vervalste FB-profiele. Belangstellendes word dan aangesê om die verhuurder te kontak. Daar word vermoed dat die Facebook-profiele wat vir verskeie weergawes van dieselfde advertensie gebruik is, vervals of gekloon is. Verskillende kontaknommers word ook gebruik, maar die foto's van die woonstel is almal dieselfde.
"Sy [die verhuurder] het vir my gesê sy is die naweek in Johannesburg en ons kan die woonstel die volgende Maandag besigtig wanneer sy terug is. 'n Ruk later het sy my gekontak en gevra dat ek solank die deposito betaal, want daar was kwansuis iemand anders wat ook baie in die woonstel belanggestel het.
Sy het gesê as ons nie die plek wil hê ná ons daarna gaan kyk het nie, sal sy die deposito terugbetaal. Dit het natuurlik nie gebeur nie," sê die slagoffer.
Maandag, ná die deposito betaal was, het die verhuurder soos 'n groot speld verdwyn. "Ek het haar 'n paar keer probeer bel, maar haar foon was af. Sy het ook nie op my WhatsApp-boodskappe reageer nie," sê die huurder.
Die advertensie is ook sedertdien verwyder en daar was geen reaksie op boodskappe wat na die Rieta Venter-profiel gestuur is nie. Ander klaers het ook na vore gekom en 'n WhatsApp-groep vir slagoffers van dié verhuurder is gestig. Tot dusver het drie slagoffers klagtes van bedrog by verskeie polisiestasies aangemeld. Een van die slagoffers is van Gqeberha. Dieselfde modus operandi en huis is gebruik tydens die bedrogspul.
George Herald het ook talle pogings aangewend om die verhuurder te kontak, maar was onsuksesvol. Daar is vertroulik verneem dat die verhuurder in Pretoria bly.
Nog 'n advertensie vir dieselfde tuinwoonstel wat glo in Standerstraat te huur was.
'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'