EIENDOMSNUUS - Alhoewel deeltitelplanne eenvoudig lyk, is dit belangrik om die betekenis en implikasies van al die lyne op die planne te verstaan.
Die deeltitelplanne verskaf ook inligting wat belangrik is om deelnemingskwotas te bereken, aangesien dit die grootte (vloeroppervlakte) van elke deel in 'n skema weergee.
Deelplanne bevat belangrike inligting wat deur verskeie rolspelers benodig word, onder andere die volgende:
- Die geregistreerde naam, fisiese adres en erf nommer waarop die skema ontwikkel is.
- Die naam van die plaaslike owerheid of munisipaliteit waar die skema geregistreer is.
- Die "SS" nommer – hierdie is 'n unieke registrasie nommer, byvoorbeeld SS 21/1999. Dit beteken die skema is in 1999 geregistreer en dit was die 21ste deeltitelskema wat in die spesifieke jaar geregistreer is.
- 'n Beskrywing van die aantal geboue in die ontwikkeling.
- Die naam en besonderhede van die professionele landmeter wie die deeltitelplanne opgestel het.
- Datums waarop die planne deur die plaaslike owerheid en die Landmeter- Generaal goedgekeur is.
- 'n Uitlegging van al die dele in die skema met die spesifieke deelnommers.
- Die vloeroppervlakte van elke deel in vierkante meter, asook die deelnemingskwota wat toegeken is aan elke deel.
- Indien uitsluitlike gebruiksgebiede toegeken is aan sekere dele en geregistreer is as 'n saaklike reg, dan sal hierdie gedeeltes in vierkante meter ook op die deeltitelplan aangedui word. Neem kennis dat hierdie areas nie deel vorm van die deelnemingskwota nie.
- Die gemeenskaplike eiendom sal aangedui word as "GE" op die planne (of as "CP" common property)
'n Afskrif van u skema se deeltitelplanne kan by u bestuursagent aangevra word, asook die Aktekantoor. Met die bekendstelling van die Gemeenskapskema Ombuddienste (CSOS) in 2016, was daar besluit om al die deeltitelplanne oor te plaas van die onderskeie Aktekantore na CSOS se kantore.
Ons vermoed dat CSOS nog steeds besig is met hierdie proses.
In die daaropvolgende gevalle moet die bestaande planne gewysig word:
- Wanneer 'n deel vergroot word, bv. deur aan te bou aan u huidige eiendom
- Wanneer die skema uitgebrei word deur nuwe dele by te voeg, bv. nuwe eenhede word in u huidige skema gebou.
- Wanneer dele verwyder of gesloop word, bv. stoorkamers wat as dele geregistreer is word gesloop om nuwe eenhede te bou.
- Wanneer uitsluitlike gebruiksgebiede wat as saaklike regte geregistreer is, bygevoeg of verwyder word.
- Wanneer gemeenskaplike eiendom verkoop word om addisionele eenhede te bou.
- Wanneer dele gekonsolideer word.
- Voorgeskrewe proses moet gevolg word voordat die planne opgedateer of verander kan word. 'n Gedeelte van die proses behels die aanstel van 'n professionele landmeter om die opmetings te doen, en die gewysigde plan aan die Landmeter - Generaal voor te lê vir goedkeuring.
Deeltitelplanne word gebruik om elke deel te identifiseer en om die vloeroppervlakte en deelnemingskwota van elke deel te bepaal. Hierdie inligting word gebruik in die berekeninge van heffings, spesiale heffings asook die onderhouds / reserwefonds bydraes van elke eienaar.
Trustees en bestuursagente maak staat op die deeltitelplanne wanneer hulle aangeleenthede rondom onderhoud moet hanteer, veral wie verantwoordelik sal wees vir die spesifieke onderhoud.
Eiendomsagent benodig die planne om die posisie, die vloeroppervlakte en deelnemingskwota van 'n deel te bevestig tydens die verkoop van 'n eenheid.
Lesers kan aflei dat deeltitelplanne 'n belangrik rol speel in die bestuur van 'n deeltitelskema. Eienaars is geregtig op 'n afskrif van die planne (neem kennis dat bestuursagente 'n fooi mag vra vir 'n kopie van die dokument), en die nuutste kopie van die deeltitelplanne moet by elke algemene jaarvergadering beskikbaar wees vir besigtiging.
Dit is die plig van die trustees om te verseker dat alle veranderinge, bv. uitbreidings van dele of toevoeging van saaklike uitsluitlike gebruiksgebiede op die planne aangebring word.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'