EIENDOMSNUUS - Karin Krohn verduidelik hoe om te werk te gaan indien 'n eienaar wil aanbou aan sy huis in 'n deeltitelskema.
Ek is verlede week gekontak deur 'n pensionaris wat hulp vra om sy motorhuis in 'n leefarea te omskep. Die egpaar het 'n jaar gelede besluit om af te skaal, en het toe eiendom in 'n deeltitelskema gekoop, maar nou dreig sy eggenote om hom te verlaat indien hy nie die huis vergroot nie!
Omskepping van 'n motorhuis
In terme van deel 13(1)(g) van die Deeltitelbestuurswet kan 'n motorhuis net omskep word indien al die lede van die regspersoon skriftelik daartoe toestemming gee. 'n Motorhuis is geskep om voertuie in te parkeer, en moet nie as stoorplek of leefarea gebruik word nie.
Sommige eienaars gaan selfs sover om hulle motorhuis vir 'n besigheid te gebruik. Indien 'n motorhuis omskep word in so iets plaas dit baie druk op die algemene parkering in die skema, want eienaars gebruik die besoekersparkering om hulle voertuie te parkeer aangesien hulle nie hulle motorhuise kan gebruik.
Uitbreiding van 'n deel deur aanbouings
Die wet bepaal dat daar toestemming van die regspersoon verkry moet word. Dit behels dat die trustees 'n algemene vergadering sal belê waartydens 'n spesiale besluit aanvaar moet word om die uitbreiding goed te keur. 'n Spesiale besluit kan slegs aanvaar word indien 75% van die eienaars teenwoordig by die vergadering toestemming daartoe verleen. Hierdie prosedure kan egter baie tydrowend wees, aangesien die lede 30 dae voor so 'n vergadering daarvan in kennis gestel moet word.
Alternatiewelik kan 'n spesiale besluit ook verkry word deur die eienaars individueel te nader en dan toestemming van 75% van al die eienaars te verkry, die sogenaamde "round robin" besluit.
Sodra toestemming van die regspersoon verkry is, kan die bouplanne opgetrek word, wat dan deur die plaaslike owerheid goedgekeur moet word.
Hierna moet deeltitelplanne wat die uitbreiding van die eenheid aandui, deur 'n landmeter opgestel word.
Hierdie deeltitelplanne moet deur die landmeter-generaal goedgekeur word.
Nadat die deeltitelplanne deur die landmeter-generaal goedgekeur is, is dit raadsaam om u prokureur te raadpleeg, wat sal toesien dat die registrasie van die gewysigde deeltitelplanne, asook die notering teen die titelakte van die verandering van die grootte van die eenheid, aan die aktekantoor voorgelê word.
Indien daar 'n verband op die eiendom geregistreer is, moet u prokureur ook toestemming van die bank verkry voordat die proses in die aktekantoor kan plaasvind. 'n Hereregtekwitansie wat vanaf SAID verkry word, moet ook saam met die dokumente by die aktekantoor ingedien word. Die hereregtekwitansie moet verkry word aangesien daar 'n verhoging in waarde van die eiendom is as gevolg van die uitbreiding. Vir hierdie doel moet twee waardasies van eiendomsagente verkry word wat die waarde van die eiendom voor en na verbeterings aandui.
Die landmeter moet op die deeltitelplanne stipuleer of die deelnemingskwota van die eenheid nie met meer as 10% vergroot as gevolg van die uitbreiding nie. Indien die deelnemingskwota met meer as 10% vergroot, moet die prokureur ook die toestemming van elke verbandhouer van 'n eenheid in die skema bekom.
Dit is raadsaam dat deeltiteleienaars voldoen aan hierdie regsvereistes, aangesien 'n versuim om dit na te kom aansienlike vertragings veroorsaak wanneer die eiendom verkoop word.
Volgende week gesels ons oor die toemaak van balkonne en stoepe.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'