GEORGE NUUS - 'n Behuisingsprojek waarin 159 behuisingseenhede beskikbaar gestel gaan word, word in Dellvillepark in Pacaltsdorp beplan.
Eerstehuiskopers met 'n inkomste van tussen R3 500 en R22 000 sal ook kan voordeel trek uit die ontwikkeling wat 69 Flisp-eenhede (Finance Linked Individual Subsidy Programme) sal bied.
Die program maak dit vir eerstehuiskopers meer bekostigbaar om eiendom te bekom deurdat 'n subsidie aan hul finansiële instelling waar hulle 'n huislening bekom, betaal word.
Volgens Chantel Edwards-Klose, kommunikasiehoof van die George-munisipaliteit, kan alle eerstehuiskopers wat aan die voorgeskrewe vereistes voldoen, in aanmerking geneem word vir 'n behuisingsgeleentheid in die ontwikkeling. Twintig erwe sal ook teen markprys verkoop word. Die res van die ontwikkeling bied 70 groepbehuisingseenhede.
Sy het gesê die projek bied egter bepaalde uitdagings wat aangespreek moet word voordat dit kan realiseer.
"Dit behels onder meer die opgradering van die Outeniqua-rioolwerke wat die implementering van die projek vir ongeveer 18 maande kan vertraag. Daar word op hierdie stadium voortgegaan met die prosesse vir die onderverdeling en voorsiening van dienste van die erwe. Die aanstelling van diensverskaffers ten opsigte hiervan sal in terme van die munisipale voorsieningskanaalbeleid hanteer word."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'