Hoe het Van der Vyver Eiendomme daarin geslaag om nie alleen te oorleef nie, maar om bestendige groei te toon te midde van omstandighede wat nie altyd maklik was nie? "Miskien moet die rede gesoek word by wat die Franse noem ons raison d’être, die werklike dryfveer vir ons bestaan. Miskien is die rede vir ons bestaan ook die rede vir ons voortbestaan," sê Fanie van der Vyver, die diensbestuurder van die firma.
"Die hele span is daarvan oortuig dat die fokus op diens moet wees en nie op kommissie nie. As ons uit ons pad gaan om met egte belangstelling na kliënte se behoeftes om te sien, sal die vergoeding vanself kom. Dit gaan nie primêr oor die verkoop van eiendomme nie, maar oor die lewering van diens. Dit gaan in die eerste plek oor die welsyn van die kliënt en die breër gemeenskap, daarna oor die welsyn van die groep binne-in die firma. Samewerking, interafhanklikheid en wedersydse ondersteuning weeg vir ons baie swaar.
"Die keuringsproses vir agente is streng omdat na mense gesoek word wat met die hart hulleself met die kernwaardes kan vereenselwig."
Van der Vyfer Eiendomme het onlangs die dienste van nog drie staatmakers bekom, eers Cecile Roestorf, ’n ervare en toegewyde agent, en daarna nog twee met jare se waardevolle ondervinding in die sakewêreld: Willie van Heerden was bankbestuurder by Absa asook verbandadviseur vir Sanlam en vir die vier grootste banke. Frank Potgieter is ’n bedrewe netwerker asook ’n deurwinterde en bekroonde verseke-ringsmakelaar.
Gehalte en deeglikheid
Frank sê hy is veral beïndruk met die gehalte en deeglikheid van die aanvanklike en deurlopende opleiding by Van der Vyfer Eiendomme. Hy hou ook van die eerlike en opregte werkskultuur en voel dat hy homself daarin kan uitleef.
Cecile is gelukkig met die groot mate van vryheid wat aan die agente gegun word. Sy reken daar word nie gedurig oor mense se skouers gekyk en in hulle nekke geblaas nie.
Willie hou van die spanwerk en die beklemtoning van ’n besondere waardestelsel. Hy sê sy kollegas is baie ondersteunend en hy het nog nie vir ’n oomblik enige gevoel van venynige mededinging ondervind nie.
Inligtingsessies
Die prinsipaal van die firma en oordragprokureur, Wilhelm van der Vyver (Van der Vyver Eiendomme is die enigste eiendoms-agentskap in George met sy eie voltydse aktebesorger), kom van tyd tot tyd in aanraking met mense wat voel dat hulle ongelukkig is met of onseker is oor sekere aspekte van die verkoopsproses. Hy sal voortaan op Donderdae van 16:00 af beskikbaar wees vir gratis sessies en om vrae te beantwoord oor lastige kwessies in die verkoopsproses, soos hoe die oordragproses werk, wat om te doen as jy voel dat jy vasgevang is in ’n alleenmandaat waar die agent nie presteer nie, en hoe om die beste diens uit agente te kry.
RSVP as jy belangstel na Van der Vyver Eiendomme se kantoor by 044 873 0212.
.jpg)
Van links is dr. Dawid van der Vyver, Willie van Heerden, George Hattingh, Fanie van der Vyver (diensbestuurder), Wilhelm van der Vyver (prinsipaal), Frank Potgieter en Cecile Roestorf.