GEORGE NUUS - As jy 'n eiendom van 60 jaar en ouer besit en dit wil sloop of verbreek, moet jy eers die groen lig van die Wes-Kaapse Erfenisraad kry. Doen jy dit nie, oortree jy die wet en loop die gevaar om van 'n misdaad aangekla te word.
Die aangeleentheid het weer ter sprake gekom tydens verlede week se vergadering van die George Erfenistrust. Die trust vergader maandeliks en gewoonlik word sulke aangeleenthede bespreek.
Volgens ingeligtes word sulke aangeleenthede ingevolge die Erfeniswetgewing van 1999 beheer. Die wet bepaal dat enige struktuur wat 60 jaar en ouer is, beoordeel moet word in terme van sy erfeniswaarde.
Gewoonlik word aansoeke vir oorweging aan die Wes-Kaapse Erfenisraad voorgelê. Verskeie faktore word in aanmerking geneem soos byvoorbeeld die omgewing waarin die eiendom is, die toestand van die struktuur en die historiese waarde daarvan.
Die Erfenisraad kan 'n permit uitreik vir die sloping van 'n struktuur of die aansoek weier. Dit gebeur dat toestemming met voorwaardes gegee word en dan bly byvoorbeeld die vooraansig van 'n gebou behoue. Daar is 'n reeks strafmaatreëls wat ingestel kan word as daar nie aan die voorwaardes voldoen word nie.
Dit is ook een van die redes waarom elke munisipaliteit oor 'n Erfenisinventaris moet beskik. In die Erfenisinventaris is inligting vervat oor geboue van historiese waarde van 60 jaar en ouer.
Erfenisinventaris van Pacaltsdorp
Tydens die vergadering het die vestiging van 'n Erfenisinventaris van Pacaltsdorp weer ter sprake gekom. Die George Erfenistrust het reeds vroeër laat blyk hy gaan help om 'n Erfenisinventaris vir Pacaltsdorp op te stel. In die huidige George Erfenisinventaris is nie voorsiening gemaak vir Pacaltsdorp nie.
Die nuwe poging gaan voort en duidelikheid oor die werkswyse behoort binne die volgende paar weke verkry te word.
Gedenkplate
Voorbeelde van nuwe gedenkplate wat by historiese geboue aangebring gaan word, is tydens die vergadering aan aanwesiges gewys. Gedenkplate is reeds 20 jaar gelede deur die George Erfenistrust ingestel. Wyle Andy Lamont het die inisiatief geneem vir 'n reeks gedenkplate in Pacaltsdorp.
Soortgelyke gedenkplate is al ook byvoorbeeld by die NG Moederkerk en die Katedraal in die middedorp aangebring. Dit is om erkenning te gee aan die erfenisbewaring van die gebied.
Elsa Graser, 'n trustee van die George Erfenistrust, is nou daarvoor verantwoordelik.
Verskeie van die nuwe gedenkplate sal mettertyd aangebring word.
Benewens die erkenning uit 'n bewaringsoogpunt, word geglo dit kan help om toerisme te bevorder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'