GEORGE NUUS - Die Groenkloof-aftreeontwikkeling in George het vanjaar merkwaardige groei beleef met 112 nuwe gesinne wat hulle hier gevestig het.
Hierdie is die derde aftreeoord na die Groenkloof-droom 13 jaar gelede met Groenkloof Groot-Brak en Reebok gebore is.
Jan Pienaar, die ontwikkelaar, sê hy is dankbaar om te sien dat die Groenkloof-model en -visie steeds die behoeftes van afgetredenes akkuraat aanspreek.
"Dit is deels toe te skryf aan die wye verskeidenheid van wooneenhede wat beskikbaar is wat gebou kan word op standaard of groter erwe."
Groenkloof Rif, die deel waar groot erwe beskikbaar is en eienaars self ontwikkel, is reeds 'n geruime tyd uitverkoop.
Erwe wat ook op hierdie basis ontwikkel word in Groenkloof Glen is meer as halfpad uitverkoop.
"Nog 'n nuwe gedeelte, Groenkloof Woods, se eerste sooi is in Junie gespit en die eerste inwoners geniet reeds die asemrowende uitsig op die Outeniquaberge.
"Die finale goedkeurings vir verdere fases word vroeg in 2018 verwag," sê Pienaar.
Die George Herald het die pasvoltooide, moderne en goed toegeruste George-sorgeenheid verlede week besoek.
Die sorgeenheid bied 94 sorgbeddens en 75 bystandswoonstelle en is ten volle operasioneel.
'n Groot mylpaal vir die sorgeenheid in die afgelope jaar was dat daar goedkeuring ontvang is vir sub-akute (14 beddens) asook palliatiewe (15 beddens) versorging.
'n Gemeenskapsuster is permanent toegewys om die bystandswoonstelle en die huise te bedien.
Uit 'n gesprek met die sorgeenheidbestuurder, suster Ilse Botes, was dit duidelik dat sy 'n hart vir mense het en dat inwoners se gerief vooropgestel word.
Sy sê nuwe intrekkers word aangemoedig om hul eie meubelstukke, ornamente en skilderye saam te bring om sodoende 'n ware tuiste te skep.
"Mense bring selfs hul budgies saam. Groenkloof is troeteldier-vriendelik en ons moedig inwoners aan om tuin te maak."
Die sorgeenheid het ook 'n satellietstasie van Eden 911 op die perseel.
Volgens Ben Groenewald (links), voorsitter van die huisinwonerskomitee, is Groendkloof George 'n vriendelike plek waar inwoners se insette van waarde geskat word. By hom is, van links: Jan Pienaar (ontwikkelaar en besturende direkteur), suster Ilse Botes (sorgeenheidbestuurder), Charl Collins (sorgbestuurder) en Jacobus Murray (finansiële bestuurder). Foto: Alida de Beer
Verskeie hoogtepunte is vir 2018 in die vooruitsig. Die bemarkings- en administratiewe kantore trek binnekort na die groot kantoorblok in die Groenkloof Hub wat byna voltooi is.
Hier sal spesiale fasiliteite vir inwoners beskikbaar wees, waaronder 'n metaal-, houtwerk-, pottebakkery- en kunsateljee, gimnasium met verhitte swembad, restaurant en 'n biblioteek.
Suiderkruis se 24-uur bemande sekuriteitskantore sal ook hier gehuisves word.
"Ons harte dink versorging. Groenkloof is nie net 'n klomp geboue nie.
"Hier is 'n kultuur van vriendelikheid en hulpvaardigheid onder die bestuur en personeel wat ook uitkring na die inwoners.
"Ons ontwikkeling kan alleen 'n sukses wees met die inwoners se samewerking en die bydrae wat hulle lewer is onontbeerlik," sê Pienaar.
Hy as ontwikkelaar bly hier aan wanneer die ontwikkeling voltooi is en bly deel van die bestuur.
Met bykans elke moontlike behoefte van 50-plussers wat hier aangespreek word, is dit geen wonder dat die ontwikkeling teen so 'n verbysterende tempo vorder nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'