Die regspersoon kry dan gaandeweg meer lede totdat die laaste eenheid verkoop en oorgedra is en in dié stadium verbeur die ontwikkelingsmaatskappy lidmaatskap en dra enige eksklusiewe gebruiksareas wat nog in die maatskappy se naam geregistreer is gratis aan die regspersoon oor.
Maar, sê Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, eers moet die ontwikkelaar die aanvangsvergadering van die regspersoon belê. Dit moet binne 60 dae na die eerste oordrag geskied, al was daar net een eenheid na 'n nuwe eienaar se naam oorgedra, en enige lid of lede moet minstens een week vooraf kennis van die vergadering ontvang.
By dié eerste vergadering is dit die ontwikkelaar se plig om 'n afskrif van die deeltitelplan, soos goedgekeur en onderteken deur die Landmeter-generaal, sowel as 'n sertifikaat van die plaaslike owerheid dat alle erfbelas-ting ten volle betaal is tot op die datum van die stigting van die regspersoon, voor te lê.
Die ontwikkelaar moet ook volledige rekords van enige inkomste uit heffings en enige uitgawes deur die skema vanaf die datum van eerste inwoning van enige eenheid tot en met die datum van die stigting van die regspersoon verskaf. Enige surplus inkomste moet ook aan die nuwe regspersoon oorhandig word. Everitt skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat ander sake wat by die eerste vergadering op die agenda moet verskyn die volgende insluit:
- Goedkeuring van die finansiële state ra-kende die regspersoon vanaf die stigtingsdatum tot en met die datum waarop kennis van die vergadering gegee is.
- Goedkeuring van die regspersoon se begroting vir die komende 12 maande.
- Die oordrag van enige kontrakte wat die ontwikkelaar namens die toekomstige regspersoon aangegaan het, soos byvoorbeeld kontrakte vir tuindienste, onderhoud of sekuriteit.
- Goedkeuring van 'n skedule van die vervangingswaarde van eenhede in die skema vir versekeringsdoeleindes.
- Die aanwysing van 'n rekenmeester of in die geval van skemas met meer as 10 eenhede 'n ouditeur.
- Die verkiesing van trustees, verkieslik met iemand anders as die ontwikkelaar as voorsitter sodat eienaars van eenhede daadwerklik beheer oor die skema kan oorneem.