GEORGE NUUS - Groot was die verrassing toe die veroordeelde bedrieër Henry Jones, wat deur die hof onder huisarres geplaas is, saam met die PBI-party Woensdagoggend, 19 Julie, tydens die tussenverkiesing in wyk 16, by hul stalletjie in New Dawn Park gekuier het.
'n Opgewonde Jones het George Herald met 'n breë glimlag gegroet en graag vir 'n groepsfoto saam met die PBI se wykskandidaat, Cecil Noble, geposeer.
Alhoewel dit onverwags was, het Jones toestemming gehad vir hierdie feestelike geleentheid.
Candice van Reenen, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap, het by navraag bevestig dat Jones toestemming van die hoof van gemeenskapskorreksies ontvang het om vir 'n bepaalde tydperk aan aktiwiteite deel te neem.
"Hy het dus nie sy voorgeskrewe voorwaardes oortree nie," sê sy.
Jones is 'n voormalige George-raadslid wat in Mei vanjaar vir behuisingsbedrog gevonnis is. Hy is tot vyf jaar huis-arres gevonnis. Landdros Praglathan Govender het beslis dat Jones aan 'n rehabilitasieprogram moet deelneem, sowel as 16-uur gemeenskapsdiens per maand vir 'n tydperk van vyf jaar.
Tydens vonnisop-legging het Govender aan Jones gesê: "Die rede waarom jy vandag uit hierdie hof stap is bloot weens jou mediese toestand."
Jones is gewaarsku dat, indien hy gesien word waar hy inkopies doen of gholf speel, of in die gemeenskap rondbeweeg, hy direkte tronkstraf kan verwag.
PBI-leier Virgill Gericke het by navraag gesê die party het 'n skriftelike versoek aan die department van korrektiewe dienste (DKD) gerig dat Jones teenwoordig kan wees. Dit is toegestaan.
Gericke het benadruk Jones doen niks verkeerd in die konteks van sy teenwoor-digheid by die tussenverkiesing nie.
"Hy is 'n PBI-ondersteuner en nie 'n kandidaat nie. Hy het 'n rol om te speel en 'n bydrae om te maak. Hy het grondwetlike regte," het Gericke bygevoeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’