GEORGE NUUS - Sam Crawley wat in verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing onder die vaandel van Good in wyk 1 Blanco gestaan het, het Dinsdag by die DA aangesluit.
Crawley het in daardie verkiesing in November teen onder meer sy broer, Gideon, gestaan. Gideon het vir die Patriotic Alliance gestaan.
Lorraine van Schalkwyk, DA-aktivis en gemeenskaps-leier in wyk 1, het bevestig dat Sam by die DA aangesluit het. "Ons verwelkom hom met ope arms. Ons benodig sulke sterk manne in ons party. In Blanco is 'n groot blou dam. Ek katrol al die sterk manne in die groot blou dam in."
Crawley het by navraag gesê hy het na deeglike oorweging besluit om by die DA aan te sluit. Hy het 'n deeglike analise van die plaaslike verkiesings van 2016 en 2021 gemaak. "Die DA is nog steeds die party wat positief in ons gemeenskappe impakteer. Stempersentasies was laer in George, moontlik as gevolg van die reënweer en ander natuurelemente."
Hy het benadruk niks is hom aangebied om by die DA aan te sluit nie.
"Ek het besluit om na 'n party te gaan wat besluitneming het om ons mense se omstandighede te verander deur middel van dienslewering. Die DA is die enigste party wat 'n petisie het teen die voorgestelde 20,5 % kragverhoging.
"Verkiesingsdata in George en die Suid-Kaap vertel 'n goeie storie wat groei van die DA betref. Provinsiaal het die DA die Premiers-induksieprogram vir 2021-matrikulante om in staatsdepartemente, teen 'n nominale vergoeding waardevolle werkservaring op te doen.
"Ek glo as jy jou mense se omstandig-hede wil verander, moet jy by die hartklop van besluitneming wees. Daar is leemtes om aan te spreek oor die onderhoud van die infrastruktuur in George, maar met die herskikking van die begroting, kan dit aangespreek word."
Lorraine van Schalkwyk, (links) DA-aktivis en gemeenskapsleier in wyk 1, verwelkom Sam Crawley Dinsdag in die DA.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'