GEORGE NUUS - Die Onafhanklike Verkiesings-kommissie (OVK) se registra-sienaweek, wat op Saterdag 18 November en Sondag 19 November plaasgevind het, het 'n oorwegend positiewe reaksie ontlok.
Verteenwoordigers van politieke partye het ook daarop gewys dat dit verblydend is dat die jeug opgedaag het om te registreer.
Die OVK het in 'n verklaring gesê hulle is verheug dat daar interaksie was met 2,9 miljoen kiesers oor die twee dae.
In die Wes-Kaap het 227 620 registrasies plaasgevind. Op die oomblik is daar 26,8 miljoen kiesers geregistreer. Voor die naweek was daar 26,3 miljoen geregistreerde kiesers.
In die ouderdomsgroep 16 tot 29 jaar het 445 089 kiesers geregistreer. Dit verteenwoordig 78,31% van die nuwe kiesers. In Gauteng, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het die meeste aanlyn registrasies plaasgevind.
ANC-lede Julia Ncamazana, Lisakhanya Mpumela en Libhongo Lucas by die Lawaaikamp-gemeenskapsaal. Foto: Zama Gagu
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse DA-leier, het Dinsdag gesê die party in die provinsie is in die algemeen tevrede. "In die Tuinroete en George het dit baie goed gegaan. In die vyf distrikte in die Wes-Kaap en die metro het die jeug in groot getalle opgedaag om te registreer."
Gert van Niekerk van die VF Plus, het gesê die terugvoering wat hulle in George ontvang het, is baie bemoedigend.
"Die opkoms was wel minder as wat verwag is, maar mens moet in gedagte hou dat baie mense besef hulle kan aanlyn registreer. Mense weet ook daar gaan weer 'n geleentheid vir registrasie wees."
Die party beleef entoesiasme vir die 2024-verkiesing. "Mense besef dat dit 'n waterskeiding verkiesing kan wees."
In Blanco was Carel Welsh, Ulricke Burmeister, Jackie von Brandis, Kayla Mulder, Marinda Mulder, Marelna Gultig en William Muller by die DA se stalletjie.
EFF-lede Luthando Nogqala, Mzuyanda Gqowa en Luphumlo Tom by die Lawaaikamp-gemeenskapsaal. Foto: Zama Gagu
Virgill Gericke van die EFF het gesê registrasies was bo verwagting. Veral van die jeug.
"Aanduidings is dat mense verandering soek. Hulle is moeg vir die gewone en normale. Mense verstaan nou dat die mag lê in die kruisies."
Johan du Toit van die ACDP het gesê die party is tevrede met die verloop van die naweek. "Die registrasie het baie goed in George verloop."
Janke Tolmay van Good het gesê die registasienaweek het kiesers in staat gestel om stempunte te besoek voor die verkiesing in 2024.
Die party is van mening dat die opkoms vir die registrasienaweek nogal laag was, maar mense moet in gedagte hou hulle kan steeds aanlyn registreer.
Die huidige regering het aan bewind gekom by die stembus en die enigste wyse hoe hy verwyder kan word is om hulle by die stembus uit te stem. Om dit te kan regkry moet mense as 'n kieser geregistreer wees. Dit is die waarde van stemmery.
Christo Alexander van die PA in George het gesê die registrasie-naweek was 'n goeie toetslopie vir die 2024-verkiesing.
"In my rondbeweeg was dit duidelik dat die mense opgewonde is oor die verkiesing. Dis amper soos in 1994. Mense is honger vir verandering."
Vir wyk 20 in Borcherds was Good se span Catherine Jacobs en Katriena Griffies (sittend), Alfonso de la Rey, Mugalaine Philander en Herman Philander. Foto: Kristy Kolberg
Brunhilda Campher en Nosipho Nyingwa van die PA. Foto: Kristy Kolberg
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’