GEORGE NUUS - George-raadslid Wilbur Harris, is ontstig deur die tragiese omstandighede waaronder baie huisgesinne weens armoede gebuk gaan.
Juis daarom het hy besluit om vanjaar sy salarisverhoging van 6% aan die Abeeda Harris-stigting te skenk en sodoende 'n klein verskil aan behoeftige gesinne se lewens te maak.
Die stigting het in November verlede jaar 'n Ope Hand-projek in die lewe geroep, om arm gesinne by te staan.
"Tydens huisbesoeke het dit my baie ontstig om te sien hoe daar nog erge armoede in die George-omgewing is," het Harris gesê.
"Dan besef jy ook dat armoede geen kleur ken nie en onder alle bevolkingsgroepe voorkom.
"Alles kan toegeskryf word aan die hoë werkloosheidsyfer in veral die George-omgewing."
Volgens Harris is die stigting gefundeer op Bybelse beginsels, geanker in Psalm 82:3.
"Doen reg aan die swakke en die wees, gee aan die ellendige en die arme sy reg."
Die stigting se bestuur beplan 'n Mej. Lente-kompetisie in September, om geld in te samel ter ondersteuning van gesinne in die Desembervakansie.
Die Abeeda Harris-stigting is gestig ter ere van 'n jong slagoffer van die destydse apartheidsregering.
Abeeda Harris was twaalf jaar oud toe sy op 13 September 1976 deur die onluspolisie doodgeskiet is.
Sy was blykbaar op pad winkel toe om lekkers te koop toe sy onwetend deur 'n area gestap het waar die polisie en jeugdiges van die gemeenskap slaags geraak het.
Sy is deur 'n koeël getref en in 'n polisiewa gegooi waar sy later gesterf het.
Vir meer inligting kontak die stigting se sekretaris, Amien Jantjies, by 063 067 9037 of 078 280 2680.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'