Update
GEORGE NUUS - ‘n Persverklaring vroeër vandeesweek deur die George DA-kiesafdelingshoof, Geordin Hill-Lewis, rakende ‘n hofuitspraak ten gunste van George-munisipaliteit, het opposisiepartye warm onder die kraag.
Die opskrif van Hill-Lewis se verklaring lui: “DA victory in George as opposition parties fail in the Western Cape High Court”, en verwelkom die uitspraak van die Kaapse hooggeregshof wat ‘n aansoek van sekere opposisiepartye om die verkiesing van George-burgemeester, Leon van Wyk, ongeldig te laat verklaar, van die hand gewys het.
Die PBI, VF Plus en ACDP het hul sterk hieroor uitgespreek. PBI-leier, Virgill Gericke, het gesê hy verstaan nie mooi wat presies die DA vier nie: “Ons is verward oor die opgewondenheid en oorwinning wat die DA hulself toe-eien, aangesien hulle nooit ‘n party in hierdie saak was nie. Hulle het hul opposisie die oggend van die saak teruggetrek. Wat vier hulle?”
Volgens ANC-hoofsweep, Nomawethu Jantjies-Gushman, is dit die eerste keer dat die kollektiewe opposisie (PBI, ANC, AIC, EFF) die DA hof toe neem. Die DA was een van die respondente in die aansoek, maar het die eerste dag voor die aansoek aangehoor is, onttrek. Hill-Lewis het vroeër by navraag gesê die rede waarom hulle onttrek is omdat hulle geen belange in die aansoek het nie.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het sy misnoeë uitgespreek oor die sogenaamde “DA-oorwinning”.
“Ek het ‘n probleem met daardie plasing, ek dink dit is arrogant en laakbaar van die DA om enigsins so ‘n publikasie uit te stuur en ook van DA-lede om dit te versprei,” het hy gesê. “Die opposisiepartye sluit die VF Plus en die ACDP in. As dit nie vir ons was nie, was die DA op sy knieë in George, sou ons ons gewig aan die kant van die opposisie partye geskaar het.”
Gert van Niekerk.
Volgens Van Niekerk is beide die VF Plus en die ACDP die burgemeesterskap van George aangebied indien hulle saam met die opposisie gestem het. “Dit is aan ons te danke dat hulle vandag nog [in George] aan bewind is,” het hy gesê.
Van Niekerk reken die ander respondente in die saak - die George-munisipaliteit, die munisipale bestuurder en die speaker, almal in hul amptelike kapasiteit, nie as DA-lede nie, is die uiteindelike oorwinnaars in die aansoek.
Ook die ACDP het hul skok oor die “eensydige verklaring” uitgespreek. ACDP-raadslid Johan du Toit, het gesê die DA het die steun van beide die ACDP en VF Plus nodig om in George te regeer. “Die ACDP glo dat samewerking tussen ons, die DA en VF Plus stabiliteit in George kan bring vir skoon regering,” het Du Toit gesê.
Johan du Toit
Hill-Lewis het by navraag gesê beide die VF Plus en ACDP is belangrike vennote vir die DA, maar dat die hofuitspraak terselfdertyd ‘n oorwinning is vir die George-raad en Leon van Wyk.
“Ek het hul ongelukkigheid met Corné Mulder (VF Plus provinsiale leier) bespreek en hy verstaan en is heeltemal tevrede. Ons het ‘n belangrike vennootskap met hulle, maar dit is op die basis van substansiële sake, nie persverklarings nie. Ek sal graag binnekort met die ACDP- en VF Plus-raadslede gaan koffie drink om dinge uit te praat.
Virgill Gericke. Foto's: Michelle Pienaar
Verwante artikel: High Court declares Mayor's election valid
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'