TUINROETE POLITIEKNUUS - Die nuwe DA-leier, John Steenhuisen, laat nie gras onder sy voete groei nie en is reeds Vrydag in die Tuinroete.
Hy besoek Knysna op Vrydag 6 November en George Maandag 9 November om die party te help in die belangrike komende munisipale tussenverkiesings. Dit is veral die vier munisipale tussenverkiesings in George op Woensdag 11 November wat aandag trek.
Tussenverkiesings word in wyke 8, 14, 17 en 24 gehou en die DA het kandidate in al die wyke. Die uitslae word as belangrik beskou. As die DA drie of al vier die tussenverkiesings wen, sal hy 'n volstrekte meerderheid hê en steeds kan regeer.
As hy al vier verloor, sal hy koalisies moet aangaan met waarskynlik die ACDP of/en die VF Plus om aan bewind te bly.
Die DA-kiesafdelingshoof, Geordin Hill-Lewis, het bevestig dat Steenhuisen die gebied in sy nuwe hoedanigheid besoek.
Volgens Hill-Lewis is dit deel van die DA se verkiesingsveldtogte met die oog op die tussenverkiesings. Hy sal onder meer besoeke van huis tot huis onderneem om kiesers in te lig.
Die presiese besonderhede sal later bekend gemaak word. Ofskoon Steenhuisen reeds Sondag in George aankom, sal hy eers Maandag as deel van die DA-veldtog ingespan word.
Steenhuisen sal ook informele toesprake lewer. "Dit is baie belangrike besoeke. Ons het mededingende tussenverkiesings op hande en daar sal gepoog word om soveel moontlik mense te bereik. Ek is baie bly dat hy die gebiede besoek," het Hill-Lewis gesê.
"Sy besoeke wys hoe belangrik die tussenverkiesings vir die DA is."
Streekkonferensie
Die DA se oosstreek hou Saterdag sy streekkonferensie. Tydens die geleentheid sal die streek se nuwe leierskap verkies word. Tertuis Simmers is reeds onbestrede as nuwe voorsitter gekies en Dirk Kotze, onbestrede as nuwe voorsitter finansies.
Jaco Londt, uittredende voorsitter, het gesê dr. Ivan Meyer, die DA se federale voorsitter, sal ook die geleentheid bywoon en aanwesiges toespreek. Die nodige Covid-19-protokolle sal gevolg word. Afgevaardigdes sal 'n keuse hê om te kan bly nadat hulle gestem het.
Londt het homself verkiesbaar gestel vir die party se voorsitterskap in die Wes-Kaap. Die nuwe voorsitter sal op 21 November gekies word tydens die party se Wes-Kaapse kongres.
The newly elected leader of the DA, John Steenhuisen will be arriving in the Garden Route on Friday. He will be campaigning on Friday for the DA in the important coming by-elections in Knysna. On Monday he will be campaigning for the DA for the four by-elections in George that will be held next Wednesday 11 November.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'