GEORGE NUUS - Een van George se bekendste en kleurvolste politieke figure, Mercia Draghoender (63), het Dinsdag bevestig dat sy by die PBI aangesluit het.
Draghoender was in die verlede onder meer burgemeester, onderburgemeester, speaker en 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad, onder die vaandel van 'n verskeidenheid politeke partye.
As alles volgens plan verloop, sal sy later vanjaar op 27 Oktober onder die vaandel van die PBI aan die munisipale verkiesing deelneem.
Draghoender het gesê sy gaan haar verkiesbaar stel as moontlike kandidaat in die party se strukture. Die party sal dan moet besluit of hulle haar as 'n wykskandidaat benoem of op die proporsionele lys sit.
Foto's: MIchelle PIenaar
Tot voor haar aansluiting by die PBI was sy lid van Good. "My hoofstuk met Good is afgesluit."
In die verlede was sy ook betrokke by die OD. Toe die OD later betrokke geraak het by die DA, het sy deel van die party geword.
Volgens Draghoender hou sy al lankal die PBI dop. "Ek sien hoe betrokke hulle in die gemeenskap op grondvlak is. Vir die arm gemeenskappe is dienslewering van kardinale belang. Die PBI veg dat die arm gemeenskap deel word van die hoofstroomekonomie."
Draghoender het gesê sy het besluit om betrokke te raak omdat sy voel sy kan nog baie vir die gemeenskap doen. "Ek is nog vuur en vlam."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'