GEORGE NUUS - n Tawwe stryd lê voor vir die DA-voorsitter van die Oos-streek, Jaco Londt, wanneer hy einde volgende week meeding teen Eden-burgemeester, Memory Booysen, om sy posisie te behou. Londt het as voorsitter gedien vir die afgelope termyn van twee en 'n halwe jaar.
Booysen se naam verskyn ook as kandidaat vir die posisie van ondervoorsitter.
Die Oos-streek se nuwe bestuur word op Saterdag 23 September tydens 'n kongres in Hartenbos gekies. Die Oos-streek strek van Grabouw in die Weste en Murraysburg in die Noordooste, tot by Uniondale en The Crags in Plettenbergbaai.
Ofskoon die hele bestuur van 10 lede (sowel as drie verteenwoordigers op die federale raad) verkies moet word, is dit die posisie van voorsitter waaroor almal praat.
Al die streek se raadslede, takvoorsitters, lede van die parlement (LP's) en lede van die provinsiale parlement (LPP's) sowel as 60 addisionele taklede sal die kans kry om hul kruisies op die stembriewe te trek.
Sowat 350 stemgeregtigdes word by die kongres verwag.
Hierdie kongres is belangrik want die bestuur wat hier verkies word gaan die party lei in die aanloop na die 2019-verkiesing.
Londt het by navraag gesê hy glo hy staan 'n goeie kans om herverkies te word, indien die afgevaardigdes elke kandidaat se rekord oor die afgelope termyn in ag neem.
DA-voorsitter van die Oos-streek, Jaco Londt
"Beide kandidate het hul sterk en swak punte, maar beide wil ook hê die party moet groei en suksesvol wees.
"Die afgevaardigdes het twee goeie kandidate om van te kies en ek glo dit gaan 'n baie interessante dag wees," het hy gesê.
Booysen het bevestig dat hy strawwe kompetisie het. "Dit gaan 'n tawwe kompetisie wees," het hy gesê. "Dit het niks te make met leierseienskappe nie, want beide van ons beskik daaroor. In my geval gaan dit oor diversiteit.
"Hier waar ek bly (in Plettenbergbaai) en verder deur die provinsie, word die DA steeds as 'n wit party gesien.
"Ek wil dit graag onder die mense se aandag bring dat die DA ook geleenthede skep vir andertaliges.
"Wanneer die geleenthede daar is, moet ons onsself beskikbaar stel. En dit is wat ek graag doen. Aan die einde van die dag sal ek die uitkoms van die kongres aanvaar."
Bekende name op die lys
Volgens Londt is dit die meeste mense ooit op die kandidaatlys. Tien posisies is beskikbaar op die Oos-streek se bestuur: 'n voorsitter, drie ondervoorsitters, 'n sekretaris, 'n voorsitter van finansies en vier addisionele lede.
Verder word 'n verteenwoordiger vir raadslede op die federale raad gekies, sowel as twee persone wat nie-openbare verteenwoordigers op die raad is.
Talle bekende name verskyn op die lys, waaronder die LP's Tertuis Simmers, Okkie Terblanche en Rainey Hugo.
George-burgemeester Melvin Naik is 'n kandidaat vir die verteenwoordiger vir raadslede op die federale raad.
Ander bekendes wat op die lys verskyn, sluit in Eden-speaker Mark Willemse, Eden-onderburgemeester Rosina Ruiters, Knysna-burgemeester Eleanore Bouw-Spies, Hessequa-burgemeester Grant Riddles, Mosselbaai-onderburgemeester Dirk Kotze, Overstrand-burgemeester Rudolph Smith, Theewaterskloof-onderburgemeester Isaac Sileku, speaker van Kannaland Aletta Theron, speaker van Swellendam Bongani Sonqwenqwe en die speaker van Prins Albert, Stoffel Botes.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'