Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As Mmusi Maimane, die stigter en leier van die nuwe politieke party Build One South Africa (Bosa), sy sin kry, sal politieke leiers wat tot een van die drie regeringsfere verkies word, oor 'n minimum kwalifikasie soos 'n basiese graad beskik.
Maimane, wat ook die voormalige nasionale leier van die DA is, het die pleidooi Dinsdag 22 November tydens 'n geleentheid van die Business Café, gemaak wat by die George-gholfklub gehou is.
Die geleentheid is deur verskeie sakeleiers en politieke leiers bygewoon waaronder adv. Gert van Niekerk, onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Charlotte Clarke, 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad en Johan du Toit, 'n stadsraadslid van George.
Maimane het gesê 'n groot deel van die uitdaging in Suid-Afrika is dat daar verskillende Suid-Afrika's is.
Daar is 'n Suid-Afrika wat welvarend is en daar is 'n Suid-Afrika wat arm is. As daar na onderwys uitkomste gekyk word, is daar skole wat goed funksioneer en ander wat disfunksioneel is.
Hy het die belangrikheid van waardes onderstreep en gesê geen land sal volhoubaar kan wees as waardes nie aandag kry nie. As mense hul waardes verloor skep dit vir korruptes die geleentheid om te floreer. Die fundamentele probleem in Suid-Afrika is dat mense hulself vervreem het van hul eie waardes.
VIDEO: Mmusi Maimane op George
Volgens Maimane besef mense nie altyd watter uitdagings daar in Suid-Afrika is nie. As al die werkloses in Suid-Afrika in 'n ry staan, sal dit strek van Kaapstad tot in Kairo. Altesaam 70% van die jeug onder die ouderdom van 25 jaar is werkloos.
Die helde van vandag is nie die politici nie. Die helde is mense wat elke oggend opstaan en werk skep vir 'n mede-landsburger.
Hy het ook gewys op die belangrikheid om ekonomiese infrastruktuur te herstel. Geen ekonomie gaan groei as die ligte nie brand nie.
Maimane het benadruk dat die land leiers van integriteit nodig het. Die wyse waarop politieke leiers op die oomblik verkies word beteken dat die belang van politieke partye gedien word eerder as die van die mense.
Hy wil hê dat die kiesstelsel hervorm moet word om voorsiening te maak vir 'n proporsionele- en kiesafdelingstelsel. "Die politici wat nou in die parlement sit, vrees julle nie," het hy aan aanwesiges gesê.
Hy het gevra dat openbare verteenwoordigers wat verkies word oor minimum kwalifikasies beskik. "Ek is moeg vir open-bare leiers wat in die parlement aankom en nie jaarverslae kan lees nie. Wat se verskoning het hulle na 28 jaar?"
Hy kan verstaan in 1994 kon hulle nog 'n verskoning gehad het, want dit was na die apartheidstelsel, maar dis nou 28 jaar later.
Hy het hom ook uitgespreek ten gunste van 'n verpligte siviele diensjaar vir die jeug. Die eerste ses maande kan hulle opleiding doen en daarna deelneem aan die ekonomie.
Na die geleentheid het hy aan George Herald oor sy pleidooi vir minimum kwalifikasies vir politieke ampsbekleërs gesê amptenare moet oor minimum kwalifikasies beskik. 'n Voorbeeld daarvan is 'n munisipale bestuurder. "Wat gebeur met 'n munisipale bestuurder wat 'n meestersgraad het en dan moet hy verslag doen aan 'n burgemeester wat nie kan lees nie?"
Op die vraag oor sy politieke loopbaan het hy gesê sy party sal in die 2024-verkiesing op die stembriewe wees.
Johan du Toit, Mmusi Maimane en Gert van Niekerk by die geleentheid.
Charlotte Clarke, Mmusi Maimane en Michael Nyiakati. Nyiakati is 'n voormalige DA-lid van die George-stadsraad.
Mmusi Maimane en dr. Dennis Farrell, organiseerder van die geleentheid.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'