GEORGE NUUS - Johan Stander, wat in die verlede diep spore in die George-stadsraad getrap het, is weer terug in die raad. Stander was lid van die burgemeesterskomitee vir onder meer stadsbeplanning.
Hy is in 2010 onder die DA-vaandel tot raadslid vir wyk 22 verkies. In die vorige munisipale verkiesing in 2021 het hy klaargemaak, maar is onlangs weer nadergetrek en is nou 'n proporsionele lid.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het Stander en ander nuwe raadslede op Facebook verwelkom. Die nuwe raadslede is Christo Alexander, Theresa Jeyi, Marchele Kleynhans, Hermen Philander, Stander en Roxaan Vorster.
Van Wyk het Dinsdag 19 September aan George Herald gesê van die nuwe raadslede is verkies in tussenverkiesings en daar was ook vakatures op die proporsionele lyste wat deur die onderskeie politieke partye gevul is.
'n Gesprek is met hulle gevoer waarin onder andere die stand van sake in die raad, gebeure in George, en die rol wat hulle as raadslede speel, bespreek is.
Op die vraag oor die vul van die vakature op die burgemeesterskomitee, het hy gesê daar is bepaalde prosesse wat gevolg moet word. 'n Aankondiging sal mettertyd gemaak word.
Stander het gesê hy is verheug om weer in die stadsraad te wees. Hy wil terugploeg in die gemeenskap en glo hy kan 'n positiewe rol in die verdere ontwikkeling van George speel.
Hy het genoem dat George die vinnigs groeiende sekondêre stad in die land is en gesê dat, na 50 jaar as inwoner van George, hy kontakte in die sakegemeenskap het.
Vir hom gaan dit oor George. "Dit gaan vir my oor die skepping van werksgeleenthede vir alle gemeenskappe. In die verlede was ek betrokke by projekte waar duisende werksgeleenthede geskep is."
Terwyl hy buite die politiek was, het hy hom onder meer besig gehou met huis bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’