GEORGE POLITIEKNUUS - Jacomina Lottering, of Suster Jackie soos sy algemeen bekend is, is Icosa se nuwe lid van die George-stadsraad. Sy is in die plek van Teresa Fortuin wat bedank het en by Good aangesluit het.
Wilbur Harris, Icosa se waarnemende leier in George, het Dinsdag gesê sy is 'n groot aanwins vir die party.
"Suster Jackie, soos sy alombekend staan, het met tyd diep spore as gemeenskapsaktivis op verskeie terreine in die groter George getrap. Sy het haarself bewys as 'n omgeemens oor die veiligheid van alle inwoners en het ook tot onlangs gedien op George-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gesondheidsforums asook verskeie veldtogte onder meer die Stop Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog," het Harris gesê.
"Dan is sy ook betrokke by verskeie gemeenskapopheffingsprojekte. Sy het haar oor die jare bewys as 'n persoon wat lojaal is teenoor die party en nie eiebelang bo gemeenskapbelang plaas nie. Haar onbaatsugtige en lojale diens aan die gemeenskap het nie ongesiens verbygegaan nie."
Volgens Harris is Icosa trots om die aankondiging te maak dat sy die nuwe raadslid is. "Saam met lengte kom nuwe dinge."
Lottering het gesê dis 'n groot voorreg om Icosa in die raad te kan verteenwoordig. "Ek is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging. Hier is groot agterstande in George."
Lottering dien nou in die huidige raad en is weer verkiesbaar onder die Icosa-vaandel vir die George-stadsraad in die munisipale verkiesing wat op 1 November plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinorete nuus'