GEORGE NUUS - 'n Bekende gesig in plaaslike politieke kringe, voormalige Icosa-raadslid Wilbur Harris*, het besluit om na twaalf jaar se diens as raadslid van verskeie partye, waaronder Icosa, Cope en die OD, vir eers uit die politiek te tree.
Dit volg na die negatiewe publisiteit wat Icosa die afgelope tyd in die media ontvang het.
Die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, die Valke, het twee weke gelede op Vrydag 26 November in Kannaland toegeslaan. Die munisipaliteit word tans deur Icosa regeer. Vier amptenare word ondersoek vir 'n saak van bedrog.
"Terselfdertyd word 'n vorige kriminele oortreding van Icosa se president, Jeffrey Donson, opnuut deur nuwe lede van die party bevraagteken," het Harris gesê. "Donson weier om as burgemeester van Kannaland te bedank ondanks druk van partylede."
Met die nuwe raad se inhuldiging op 16 November in Ladismith het Donson se vorige veroordeling weer ter sprake gekom.
Volgens The Citizen het dit 'n redelike herrie ontketen. Lees hul berig hier.
Donson is in 2008 skuldig bevind aan sewe aanklagte van statutêre verkragting en een van onsedelike aanranding wat in 2004 teen 'n 15-jarige meisie gepleeg is terwyl hy burgemeester van Kannaland was. Hy is in dieselfde jaar, 2008, herverkies as burgemeester van Kannaland.
Hy dien tans vir nog 'n termyn as burgemeester.
Jeffrey Donson (regs) in 2017 tydens 'n verkiesingsveldtog. Saam met hom is Icosa se provinsiale woordvoerder, Dawid Kamfer.
Ou wonde
Volgens Donson is daar geen druk van die party vir sy bedanking nie. "Almal weet van die saak. Dis ou wonde van sewentien jaar gelede wat elke keer oopgekrap word. Daar bestaan nie sulke druk van die lede nie, dit kom van Harris," het hy gesê.
"Wys my net een wet om my te verbied om 'n raadslid en burgemeester te wees. Ek fokus net op my werk. Mag 'n mens nie aanbeweeg nie? Mag 'n mens nie uitstyg bo sulke gebeure nie? Wil julle regtig hê ek moet weer hieroor kommentaar lewer?"
Oor die saak met die Valke het Donson gesê iemand is onskuldig tot hy in 'n hof skuldig bevind is nie. "Ons het nog nie 'n raadsvergadering gehou nie, ek weet nie wanneer dit gaan plaasvind nie."
Harris voer aan dat alhoewel die meeste van Icosa se lede in Kannaland van Donson se oortreding bewus is, dit nuus is vir lede buite Kannaland wat onlangs aangesluit het. "Ons verwag van hom om as burgemeester van Kannaland te bedank, en hy weier," het Harris gesê.
"Die media het die ou wonde oopgekrap. Nou is daar chaos. Donson kan steeds sy werksaamhede as president van Icosa voortsit tot volgende jaar se nasionale kongres waar nuwe leierskap gekies word."
Provinsiale woordvoerder van Icosa, Dawid Kamfer, het egter gesê die mense staan bankvas agter Donson.
"Kannaland se mense het gepraat. Die kiesers het vir hom gestem. Hierdie is suur druiwe. Harris is vir ander kwaad omdat hy nie so goed gedoen het in die verkiesing nie. Hy weet die goed al vir die afgelope klompie jare. Vir vyf jaar sit hy as 'n raadslid van die party, terwyl hy weet van al die dinge. Hoekom nou? Wie is die mense van wie hy praat wat Donson wil uit hê? Ek het nog nooit van ander mense gehoor wat ongelukkig is nie."
Jeffrey Donson
Op sy hoede
Harris het gesê hy het besluit om self uit Icosa te bedank want hy wil nie sy politieke loopbaan "binne so 'n sirkus" beëindig nie. "Die storie met Donson het groot skade berokken. Plus die drama by Kannaland."
Vir nou gaan Harris eers die politieke spel dophou en dan oorweeg wat hy volgende gaan doen.
"Ek is steeds proaktief by die gemeenskap in George betrokke en daar is vele uitdagings wat ek wil aanpak," het hy gesê. "Ek was al vanaf my hoërskooldae by George High met politiek doenig as 'n studente-aktivis en het later jare die politiek betree. Onthou, politiek lewer baie verrassings op. Watch this space!"
Wilbur Harris Foto: Michelle Pienaar
Harris het die Icosa-party (Independent Civic Organisation of South Africa) vir die vorige termyn in die raad verteenwoordig. Voor dit was hy 'n raadslid vir Cope, vir 'n volle termyn. Harris het ook 'n draai gaan maak in Kaapstad, waar hy in 2010 as lid van die OD werksaam was in die kantoor van die minister van sport en kultuursake, Sakkie Jenner. In 2009 is Harris tot onder-burgemeester verkies met die destydse samewerkingsooreenkoms tussen die OD en DA. Hy was ook 'n medestigterslid van die destydse George-gemeenskapsvereniging.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'