OUDTSHOORN NUUS - Die stryd oor wie werklik die leier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa) is, is steeds aan die gang.
Vlancio Donson, 'n lid van die Icosa-nasionale uitvoerende komitee (NUK) en onderburgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het die week gesê dat Dawid Kamfer, voormalige Icosa-raadslid van Mosselbaai, nie die leier van Icosa is en dat Icosa nie die People's Movement for Change (PMC), waarvan Marius Fransman die leier is, in die komende verkiesing gaan ondersteun nie.
Dié leierskapstwis binne die Icosa-party, tussen Kamfer, en Jeffrey Donson, burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, het verlede jaar begin toe hulle mekaar uit hul posisies as president van Icosa geskors het.
Kamfer het in Oktober verlede jaar Jeffrey en Vlancio geskors weens growwe wangedrag, en die feit dat sy reputasie die party in oneer bring en omdat hy 'sedert sy verkiesing as president, geen waarde toegevoeg tot die party nie.' Vlancio is ook geskors omdat hy die party in oneer gebring het. Jeffrey het kort hierna Kamfer geskors.
Icosa het op 9 Desember 2023, sy nuwe Nasionale Uitvoerende Kongres (NUK) in die stadsaal van Ladismith gehou. Jeffrey is herkies as president van Icosa.
Die onafhanklike verkiesing direktoraat het in Desember verlede jaar gesê dat Jeffrey Donson by hulle as die partyleier geregistreer is, en dat Kamfer uit die Mosselbaai-raad geskors is.
Hulle het egter die week gesê dat die party tans betrokke by hofverrigtinge rakende 'n leierskapdispuut is.
Vlancio het die week aan Oudtshoorn Courant gesê dat Icosa gesamentlik in 'n vergadering besluit het dat hulle nie die PMC gaan ondersteun nie.
"Daar sal nog besluit word watter party ons in Mei se verkiesing gaan ondersteun en dit sal duidelik aan ons Icosa-ondersteuners oorgedra word," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’