GEORGE NUUS - Inwoners van wyke 16, 20 en 27 gaan op 19 Julie stembus toe. Dit volg nadat drie voormalige Good-raadslede, Theresa Jeyi, Richard Hector en Neville Louw op Vrydag 21 April bedank het en by die DA aangesluit het.
Ofskoon die tussenverkiesings eers oor meer as twee maande plaasvind, is daar nou reeds groot belangstelling.
As die DA die drie tussenverkiesings wen, sal dit beteken dat die DA nie meer sy twee koalisievennote, die VF Plus en die ACDP nodig het om in beheer van die stadsraad te wees nie. Ingeligtes het egter gesê in so 'n situasie is dit onwaarskynlik dat die DA, die VF Plus en ACDP eenkant toe sal skuif.
Nog 'n rede waarom daar groot belang-stelling vir die tussenverkiesings is, is omdat dit 'n aanduiding kan gee van politieke partye se steun in George in die aanloop tot aanstaande jaar se nasionale en provinsiale verkiesing.
Luidens beplanning vir die tussenverkie-sings word 'n registrasie naweek op 3 en 4 Junie gehou. Die inhandiging van kandi-daatlyste moenie later as 17:00 op 26 Junie plaasvind nie.
Aansoeke vir spesiale stemme open op 3 Julie en sluit op 7 Julie. Spesiale stemme vind op 18 Julie plaas.
Tertuis Simmers, Wes-Kaap DA-leier, het Maandag gesê die party gaan beslis in al drie wyke staan. "Ons wil al drie wyke wen."
Die proses is aan die gang om die kandidate aan te wys.
Wat Good betref, moes die wyke nie vakant verklaar gewees het nie. Die party het regsadvies ingewin en voer aan dat die raadslede hul bedankings teruggetrek het.
Good gaan die verkiesingshof vra om die vakature in wyk 27 ongeldig te verklaar. As die ander twee wyke wel vakant verklaar word sal Good aan tussenverkiesings daar deelneem.
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê die party gaan deelneem. "Die kiesers is voos en teleurgesteld in die politieke prostitusie in George. Mense soek waardige kandidate en die PBI bied dit."
Cedric Smart van die PA het gesê die party gaan deelneem.
Die name van hul kandidate sal later bekendgemaak word.
Johan du Toit van die ACDP in George het gesê die party het nog nie 'n finale besluit oor moontlike deelname geneem nie. Dit sal van verskeie faktore afhang.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê hul deelname sal afhang of die DA die koalisie-ooreenkoms wat hulle op nasionale vlak bepleit en die heersende ooreenkoms in George, sal eerbiedig.
As die DA dit eerbiedig sal die VF Plus nie deelneem nie. Die party het 'n skriftelike versoek aan die DA gerig, maar nog geen antwoord ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’