GEORGE NUUS - Elke huis het sy swartskapie, en so ook die raad. In George-raad wissel hierdie titel van tyd tot tyd, maar soos dinge vandag lyk - en onthou in politiek beweeg dinge vinnig - is die titel vir seker om die Good-raadslid, Richard Hector, se nek.
Laataand op 'n Dinsdag sit en lees ek die agenda van 31 Januarie se spesiale raadsvergadering. Ek was heeldag in die hof vir oud-DA-raadslid Henry Jones ('n ander swartskapie) - daar is nie 'n ander tyd nie.
My oog vang prokureursverslae oor Hector en die DA-raadslid Raybin Figland. In die verslag word daar geen gronde gevind om Figland te tug nie. Hector is al weer in die tjol.
Die een verslag oor 'n saak teen Hector lyk goed, die ander een ... minder goed. Hy gaan waarskynlik gestraf word. 'n Komitee van die raad moet nou daaroor besluit.
Woensdagoggend gesels ek met hom. Hy kan vinnig gesels, maar nie te lank nie, want hy is eintlik al weer op pad na 'n ander tugverhoor. I rest my case.
"Hoeveel sake is daar nou eintlik teen jou?" vra ek. "Ek dink ses," antwoord hy. Dit was eintlik 'n retoriese vraag.
Die een saak het gehandel oor 'n agterstallige rekening, wat glo eintlik al opbetaal is teen die tyd toe die tugverhoor plaasgevind het. Hy het uit daardie een losgekom.
Nog 'n saak draai tans in die hoog-geregshof, en hulle wag vir 'n datum. Dit gaan oor 'n kontrak wat hy met die munisipaliteit gehad het toe hy taxi's besit het. Hy wou nie sy lisensie oorhandig vir die roete waar Go George nog moet uitrol nie, toe verloor hy sy kontrak. Die storie is tricky en taai.
"Wag," sê hy, "daar's nog een oor die Haarhof-klagte". Hy is op twee dinge aangekla wat tydens 'n IDP-vergadering in Pacaltsdorp plaasgevind het. Hy is op die ou end skuldig bevind op die een saak, omdat hy glo ongeskik was met 'n senior bestuurder.
Tydens dié tugverhoor het Hector in 'n etensbreuk foto's geneem van notas wat glo deur een van die komiteelede geskryf is. Nou is daar nog 'n saak hieroor - en dit was een van die twee verslae wat Dinsdag aan die raad voorgelê is. Die een wat minder goed lyk.
Dan was daar 'n aanklag teen Hector oor inmenging met die administrasie - waarop hy blykbaar onskuldig bevind is. Die tugverhoor waarheen hy op pad was terwyl ons gesels het was oor 'n ongevraagde sêding in die raad, tydens 'n konfidensiële vergadering. Hy wil nie daaroor uitbrei nie.
"Is jy die raad se stout seun?" vra ek. "Ai man," kom die antwoord op WhatsApp. Ek kan eintlik die sug hoor.
Woord van die speaker
Na aanleiding van 'n navraag oor die jongste verslag wat aan die raad voorgelê is, het George-speaker Sean Snyman die volgende gesê: "Alle bewerings teen raadslede word aan die speaker se kantoor gerig. Die raadslid word 'n geleentheid gebied om op die klagte te reageer en saam met advies word 'n verslag dan by die raad ter tafel gelê.
"Oor twee van die sake in gister se vergadering is aanbeveel dat die raad kennis neem van die bewerings en geen verdere stappe geneem word nie. Oor die derde saak word daar egter volgens advies van die regsadviseurs geglo dat daar rede kan wees en dat 'n ondersoekproses verder geneem moet word waarin al die inligting vasgestel kan word.
"Volgens regulasies is dit die speaker se plig om alle aantygings wat teen raadslede ingedien word, aan te spreek. Die proses is baie duidelik en in al hierdie gevalle is hierdie prosesse uitgevoer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'