GEORGE NUUS - Die DA gaan aan al drie tussenverkiesings deelneem vir die George-stadsraad wat moet plaasvind as gevolg van die bedankings van drie Good-raadslede.
Theresa Jeyi, Richard Hector en Neville Louw het Vrydag bedank en by die DA aangesluit. Dit raak wyke 16, 20 en 27.
As die DA al drie wyke wen kan dit beteken dat die DA/VF Plus/ACDP-koalisie tot 'n einde sal kom. Die DA sou dan 'n volstrekte meerderheid hê en nie meer die ander twee partye nodig hê nie.
Die DA het op die oomblik 26 lede, die VF Plus vier lede en die ACDP een. Om te kan regeer het 'n party 29 lede nodig.
Ingeligtes het egter gesê in 'n scenario dat die DA die drie tussenverkiesings wen is dit nie noodwendig dat die koalisie ooreenkoms in George tot 'n einde sal kom nie, want daar is 'n breë ooreenkoms op 'n nasionale vlak beding wat ander stadsrade raak.
Tertuis Simmers, DA-leier in die Wes-Kaap, het Maandag 24 April gesê die bedankings het onmiddellik in werking getree.
Die speaker van die George-stadsraad moet die OVK daarvan in kennis stel. Die OVK se volgende skedule vir tussenverkiesings is Junie/Julie. Of die tussenverkiesings dan al in George plaasvind kan afhang van hoe gou die speaker die OVK inlig/ingelig het.
Simmers het benadruk, die DA gaan beslis aan al drie tussenverkiesings deelneem.
Die tussenverkiesings gee aan die DA 'n geleentheid om weer met 'n volstrekte meerderheid te regeer soos voor 2021.
"Ons respekteer ons koalisievennote, maar die intensie is om waar moontlik alleen te regeer."
Die DA sal later meer besonderhede bekendmaak oor die aanwysingsprosedure vir sy kandidate. Mense sal kan aansoek doen om oorweeg te word as kandidate, insluitend die drie raadslede wat bedank het. Adv. Gert van Niekerk, leier van die VF Plus in George, het gesê die party het 'n koalisie ooreenkoms met die DA.
"Ons is nie stoelverwarmers nie. Sou die DA besluit om nie die ooreenkoms te eerbiedig nie, sal ons ons opsies ophou."
Die VF Plus het reeds die DA gevra of hy die ooreenkoms gaan eerbiedig.
Die VF Plus wag nog vir 'n antwoord.
Jeyi het gesê sy gaan haarself as kandidaat beskikbaar stel.
Mense moet in gedagte hou dat die DA die regerende party in die stadsraad is en in daardie hoedanigheid sal sy by dienslewering betrokke kan wees. Sy sal nou 'n baie groter verskil aan dienslewering kan maak.
Johan du Toit, ACDP-lid in die George-stadsraad, het gesê die party is deeglik bewus van die jongste situasie. "Ons het ons leierskap daaroor ingelig. Ons sal moet sien of die DA gaan hou by die koalisie-ooreenkoms in George."
Volgens Du Toit het die ACDP nog nie 'n finale besluit geneem of hy gaan deelneem aan die tussenverkiesings nie.
Neville Louw (links), Theresa Jeyi (tweede van regs) en Richard Hector (regs) het as Good-raadslede bedank en by die DA aangesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’