Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In die raadsaal van die Garden Route-distriksmunisipaliteit noem hulle mekaar onderskeidelik: "Mevrou, die speaker" en "Raadslid Spies". In die motor op pad huis toe of by die huis, praat hulle egter met mekaar soos enige egpaar en noem mekaar op hul voorname.
Dit is die unieke situasie waarmee die egpaar, Eleanore Bouw-Spies, speaker van die stadsraad en Rowan Spies, hoofsweep van die raad en raadslid, byna elke dag te doen kry. Die egpaar is beide DA-lede en beklee senior leiersposisies in die stadsraad.
Bouw-Spies is reeds lank in die aktiewe politiek. Sy was van 2000-2011 'n stadsraadslid van die ANC in Knysna en ook onder meer burgemeester. Van 2011 en 2014 het sy 'n ruskansie van die aktiewe politiek geneem. In 2014 het sy teruggekeer na die Knysna-stadsraad - die keer as speaker en onder die DA-vaandel. In 2016 het sy weer burgemeester geword. Laat verlede jaar het sy speaker van die Garden Route-distriksmunisipaliteit geword.
Rowan het in 2015 by die aktiewe politiek betrokke geraak en is in 2016 as raadslid verkies. Die egpaar het mekaar nie deur die politiek leer ken nie, maar het wel in dieselfde woonbuurt in Knysna grootgeword.
Hulle gesels gemaklik oor die unieke verhouding wat hulle deel. Hulle is verskillend, maar benadruk hulle verbreed mekaar se horisonne.
Op pad werk toe of huis toe in dieselfde motor bespreek hulle wel werk. Die egpaar praat dan graag oor dinge wat hulle na aan die hart lê en ruil idees uit.
Dit is dinge soos byvoorbeeld beleidstandpunte, rassisme, transformasie, ekonomiese ontwikkeling in die streek en die interkonneksies tussen die verskillende dorpe. Hulle bespreek nie tegniese en netelige aspekte wat tydens 'n raadsvergadering opgeduik het nie. "Ons hou nie weer die raadsvergaderings by die huis oor nie," het Eleanore gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Verskille is daar wel en ja dit was al erg. Hulle lag as hulle daarvan vertel. Die verskille tussen hulle gaan eerder oor benadering. In die algemeen het hulle altyd dieselfde doelwitte. Volgens hulle is dit net die paadjie hoe om daar te kom, wat soms tot verskille lei.
Volgens Eleanore is dit 'n baie professionele situasie in die werksplek en daar is nie tyd vir persoonlike verskille nie. Sy behandel haar man soos enige ander raadslid. Dit is 'n meer maklike as moeilike situasie.
Sy is 'n baie praktiese mens en fokus op die uitvoering van iets. Sy het Rowan beskryf as verskriklik intelligent. "Hy kan jou enigiets oor enigiets vertel."
Volgens haar is Rowan meer konfronterend en op die man af. Sy het baie respek vir hom vir die wyse hoe hy dinge doen.
Rowan het gesê Eleanore is meer takties en versoenend. Hy het al "pak slae" gekry by die speaker in die raad en sy het hom aangespreek. "Ek was al bietjie laat as ons teruggekeer na ons 'n breek gevat het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'