GEORGE NUUS - Dr. Dennis Farrell (64) het as lid van die George-stadsraad bedank.
Hy het verlede jaar in Junie onder die DA-vaandel 'n proporsionele lid van die stadsraad geword.
In die verlede was hy onder meer voorsitter van die George-sakekamer. Hy en sy eggenoot, Lizanne, woon al meer as 10 jaar in George. Farrel het Maandag gesê sy bedanking is met ingang 1 Augustus.
Hy het primêr bedank om na sy persoonlike verantwoordelikhede soos sakebelange en familiesake om te sien.
"Ek het destyds die politiek betree om 'n bydrae te lewer. Ek het met my bedanking uit die raad aangedui dat ek steeds beskikbaar is om op enige raadskomitee te dien waar ek 'n bydrae kan lewer."
Farrell het benadruk hy is op 'n goeie voet uit die raad en hy het bande gebou oor politieke grense heen.
Hy het geleer uit die politiek. "Enige persoon wat in die raad dien, is primêr aanspreeklik aan die gemeenskap. Dit sluit amptenare in. Die gemeenskap moet verstaan dis nie moontlik om alle behoeftes aan te spreek nie. Die raad moet vertrou word dat hy alle gemeenskappe op 'n regverdige wyse sal behandel. Uit 'n politieke oogpunt moet gewaak word om onrealistiese verwagtinge te skep."
Volgens Farrell was dit 'n voorreg om op die raad te dien. "My lewensbenadering is dat as jy in iets ingaan, moet jy kyk wat jy daaruit kan leer en hoe om dit vorentoe positief toe te pas.
"Mense moet in die raad dien omdat hulle 'n bydrae wil lewer eerder as om iets daaruit vir hulself te haal."
Volgens hom behoort die raad meer mense in die gemeenskap met toepaslike vaardighede aan te wend in raadskomitees en projekte.
Dr. Dennis Farrell
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'