GEORGE POLITICAL NEWS - Die DA-wyksraadslid vir Parkdene, David Willemse, het Maandag 27 Januarie as raadslid bedank.
Volgens die speaker, Gerrit Pretorius, het die kantoor van die munisipale bestuurder bevestig dat Willemse se bedankingsbrief ontvang is. Willemse se laaste werksdag is 28 Februarie.
Volgens Jaco Londt, DA-streekvoorsitter, beteken dit daar gaan ‘n tussenverkiesing in hierdie wyk plaasvind. “Ons verwag dat dit in April of Mei gaan wees, maar die OVK sal die presiese datums later kan bevestig.”
Willemse het op sosiale media sy wyk om verskoning gevra en die volgende redes vir hierdie besluit aangevoer: “Ek het net die gevoel dat ek nie meer my doel in die gemeenskap ten volle uitleef soos ek veronderstel is om te doen nie. Met al die gebeure/bewerings rondom my en waarvan ek nie bewus is/was nie en boonop ‘n MMC-lid is, maak dit my ongemaklik en dus nie ‘fit for purpose’ nie.”
Willemse se volledige verklaring:
“Aan die kiesers van wyk 8 in Parkdene, George, my familie, vriende en in besonder die breë gemeenskap van die Sentraal-Karoo waar ek van kleins af begin belangstel het in NP/NNP-politiek.
Ek het op die 27 Januarie die besluit geneem waaroor ek baie lank gedink en beplan het en voel baie gemaklik met my besluit.
Dus het ek die eerbare ding gedoen om liefs die leisels neer te lê.
Hiermee wil ek dan vir die gemeenskap van wyk 8 in George baie dankie sê vir u vertroue en baie jammer dat ek u nou moes teleurstel.
Ek kan nie net in die raad sit en ‘n salaris verdien en nie aan u ’n diens lewer soos ek veronderstel was nie.
Dus het ek my bedankingsbrief gister, die 27ste ingedien en my laaste werksdag sal die 28 Februarie wees.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'