GEORGE NUUS - Die DA-beheerde George-raad het 'n nuwe hings in hulle stal. Ebrahim 'Braam' America is hul nuwe proporsionele raadslid na die onlangse bedanking van Dennis Farrell.
Mediaskakelbeampte Athane Scholtz, het bevestig dat die raad reeds bevestiging van die Onafhanklike Verkiesingskommissie oor America se posisie ontvang het.
DA-hoofsweep Marlene Barnardt, het America welkom geheet namens die DA in George, as deel van hul span: "Ons sien uit om 'n pad saam met hom te loop en ons glo dat hy groot dinge vir ons in Pacaltsdorp gaan beteken - veral op sportgebied. Dit is heerlik om hom aan boord te hê."
America het in November verlede jaar aan die tussenverkiesing in Pacaltsdorp deelgeneem, maar moes die knie buig vir Richard Hector van die Good-party, wat die meerderheid stemme ontvang het.
Na die jongste verwikkelinge het America gesê dit is vir hom 'n besondere voorreg om deel te wees van die George-raad.
America is tans 'n voorsitter van een van die DA-kiesafdelings in George. Verder dien hy as lid van die nasionale staande komitee en provinsiale komitee van Safa (South African Football Association), en is hy die president van Safa in die Eden-distrik. Hy dien ook op die Eden-sportraad waar hy verantwoordelik is vir munisipale sportrade.
"Ek sien daarna uit om op die suksesse van die DA-beheerde raad voort te bou," het America gesê.
"Dit was nog altyd my droom om mense op hierdie vlak te dien. Ek is betrokke op alle vlakke van die samelewing, hetsy die kerk, gemeenskap of sport. Die plaaslike verkiesing is om die draai en ek gaan my alles gee. Ons woon in die mooiste dorp, en ek wil graag hê ons dorp moet groei op die manier wat dit doen."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'