TUINROETE NUUS - Die eerste vrouespeaker van Mosselbaai-stadsraad, Venolea Fortuin (36), is verlede week verkies as die DA se voorsitter van die Oosstreek. Sy is die tweede vrou wat dié posisie beklee.
Wes-Kaapse minister Tertuis Simmers, tans ook die DA-onderleier van die Wes-Kaap, het voorheen die posisie as Oosstreek-voorsitter gevul.
Fortuin is 'n boorling van Mosselbaai, en het in 2007 betrokke geraak in politiek. Sy dien tans in haar derde termyn as DA-lid by Mosselbaai-stadsraad.
"Dit is iets waarvoor ek opreg nederig en dankbaar is, en ek eer my Hemelse Vader vir die taak wat aan my toe vertrou is," het Fortuin gesê. Haar liefde vir politiek is in graad 10 in die geskiedenisklas geprikkel.
"My agtergrond is die van 'n jong meisie wat na skool moes gaan werk om haar ouers te help. In my vrye tyd het ek my besiggehou met enige iets wat gemeenskapswerk ingesluit het. Ek het 'n groot liefde vir gemeenskapsbetrokkenheid en vandaar my keuse tot politiek. Die DA was my politieke keuse." Fortuin se eggenoot van die afgelope 11 jaar, Elvhezo Fortuin, is haar ferm ondersteuningsbasis wat haar passie aanvul.
Fortuin glo aan strukture en orde en het 'n groot belangstelling in die prosesse en strukture van die DA.
"Ek het op grondvlak begin. Niks het vir my uit die lug geval nie." Sy het as vrywilliger vir sowat vyf jaar as DA-aktivis gewerk en vandaar op strukturele vlak. "Ek rol my moue op en werk in die strate vir die DA en my gemeenskap. Dit is iets wat ek my nie van kan losmaak nie," het sy gesê. Sy het sedert 2020 as DA-streeksekretaris gedien.
Fortuin is onbestrede tot voorsitter verkies - dit is iets wat sy nie verwag het nie.
"Ek het baie lank gedink oor of ek myself sou beskikbaar stel vir die taak op hande. Versoeke van oor die streek het my bereik en ek moes mooi dink. Ek het omtrent sewe nominasies vanuit verskillende dorpe ontvang wat ek moes aanvaar om vir die posisie te staan. Op 7 Desember 2021 het ek die nominasies aanvaar en ingedien.
"In die week na 10 Januarie het ons 'n amptelike skrywe vanaf die DA ontvang wat aangedui het dat ek onbestrede is. En dit het ek nie verwag nie. Dis 'n groot vertroue wat in my gestel is."
Fortuin is van voorneme om, saam met die Oosstreek se uitvoerende bestuur, voort te bou op dit wat die party tot stand gebring het.
"Ek gaan egter 'n nuwe ferm aanslag hê om die pad na 2024 te help bou. Ons mense verdien beter en ek is verbind tot die geveg om vir alle mense 'n beter SA te help bou. Dit sluit in dat ons baie hard sal moet werk om seker te maak dat elke inwoner wat stemgeregtig is, wel geregistreer is om sodoende deel te neem aan die 2024 verkiesing."
The first female speaker of Mossel Bay Council, Venolea Fortuin (36), was elected as the DA chairperson of the Eastern Region last week. She is the second woman to hold this position. Western Cape Minister Tertuis Simmers, currently also the DA deputy leader of the Western Cape, previously filled this position.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'