GEORGE NUUS - Twee DA-raadslede hoor binnekort hulle lot ná 'n onlangse besoek van die party se federale regskommissie.
DA-LP Glynnis Breytenbach, voorsitter van die regskommissie, en 'n paar afgevaardigdes, het verlede Sondag en Maandag die tugverhore behartig.
Die DA se politieke hoof van George, Tertuis Simmers, het die besoek bevestig.
Hy het egter alle navrae na die streekvoorsitter, Jaco Londt, verwys.
Londt het nie teen druktyd op navrae gereageer nie.
Die voorsitter van die Federale Regskommissie, James Selfe, het by navraag bevestig dat hulle besig is om twee aangeleenthede in George te ondersoek.
"Ek kan ongelukkig nie enige verdere inligting verskaf tot tyd en wyl die ondersoeke afgehandel is nie," het hy gesê.
Intussen gons dit behoorlik op sosiale media oor wie op die rooi tapyt moes staan, en waarvoor...
Dit is inderdaad sosiale media wat die eerste raadslid in die sop laat beland het.
Dit is nou die een wat verlede Sondag moes please explain. Ai, en 'n mens sou dink die DA het geleer uit hul voormalige leier se twiets.
Dié Dawid wou glo vir Goliat 'n ding wys, maar toe boemerang sy plan.
Hy was blykbaar 'n bietjie te kreatief toe hy Goliat se foto met 'n ander se teks wou kombineer, en die "kunswerk" per abuis op 'n publieke WhatsApp-groep beland.
Nou ja, dit sal 'n rukkie wees voor die kunstenaar vir koffie na Theewaterskloof genooi word, of na 'n markdag van George-Suid.
Maandag het sy eie drama gehad toe 'n raadslid se beweerde pragplan om die George-raad se speaker te onttroon, in skerwe gespat het.
Alles was glo mooi in plek, maar toe fluit 'n kiewiet vroegtydig. Dis dalk maklik om 'n graf te grawe, maar soms val jy self daarin.
Wanneer dinge skeefloop, is dit net die twiets en WhatsApps wat oorbly en die planmakers sit veilig op die draad.
Die raad van 'n opposisielid: "Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie. Fedex moet 'n hele paar eiers kraak om 'n omelet te maak."
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Garden Route news'