Gallery
GEORGE NUUS - Drie partye het hul kandidate vir die komende tussenverkiesings van Woensdag 19 Julie bekendgemaak. Dit is duidelik dat die stryd om mag oor die drie wyke 'n taai ene gaan wees.
Van die voormalige wyksraadslede gaan vir die wyke veg wat hulle vroeër gewen het, maar nou vir 'n ander party.
Partye het tot 26 Junie om kandidate vir wyke 16 (New Dawn Park) en 20 (Borcherds) te registreer, en tot 27 Junie vir wyk 27 (deel van Pacaltsdorp).
Twee voormalige wyksraadslede, Neville Louw en Theresa Jeyi wat beide voorheen wyke vir die Good-party gewen het, gaan met die komende tussenverkiesings op 19 Julie wéér probeer om die wyke te wen, maar dié keer in blou vir die DA.
Louw staan vir wyk 20 en Jeyi vir wyk 16. Die derde DA-kandidaat is Fernando Fredericks, vir wyk 27. Louw en Fredericks is verlede Vrydag, op Jeugdag, as kandidate in die onderskeie wyke bekend gestel.
Good
Voormalige Good-raadslid Richard Hector, gaan weer vir dieselfde wyk staan wat hy laas vir die Good-party gewen het - wyk 27 in Pacaltsdorp.
Die ander kandidate vir die Good-party is Naellowine Hector Esau vir wyk 16, en Rosa Louw vir wyk 20. Volgens die party se woordvoerder, Janke Tolmay, sal hul kandidate binnekort amptelik bekendgemaak word aan die gemeenskappe.
PBI
Die PBI het hul kandidate vir die drie wyke verlede Sondag in Pacaltsdorp bekend gemaak: Darryll Coeries, 'n voormalige Sewes Springbok-rugbyspeler staan vir wyk 20, Varity Edwards word deur haar party beskryf as 'n "vuurvreter-aktivis en uitgesproke gemeenskapsleier" en is hul kandidaat vir wyk 27 en Cecil Henry Noble, 'n voormalige DA portefeuljeraadslid vir veiligheid, is die PBI se kandidaat vir wyk 16.
FOTOGALERY: DA, Good & PBI: Hier is hul kandidate!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’