Gallery
GEORGE NUUS - Die DA in George het laat Woensdagaand spanningsvolle oomblikke beleef terwyl stemme vir die munisipale tussenverkiesing in wyk 20 (Borcherds) getel is. Altesaam ses partye, die PBI, DA, ANC, EFF, Good en ACO het deelgeneem en uiteindelik het die DA naelskraap daarin geslaag om met net agt stemme te wen.
Regina (Moekie) Windwaai van die DA het 731 stemme gekry en Mercia Draghoender van Good 723 stemme.
Daar was groot belangstelling in die tussenverkiesing. Die wyk het kort voor die nasionale en provinsiale verkiesing vakant geraak nadat Draghoender, die dienende wyksraadslid en DA-lid, onverwags bedank het en by Good aangesluit het.
Rozain Hansen, DA-veldtogbestuurder vir die tussenverkiesing, het vanoggend (Vrydag) aan die George Herald gesê, DA-lede het die aand gehoor daar is aanduidings dat die DA een van die stempunte by Youth for Christ Kid Stop gaan verloor. “As veldtogbestuurder het ek begin vrae vra.”
Die DA het nog nooit voorheen by die stempunt verloor nie. “Ons het begin bekommerd raak.”
Volgens haar was dit die moeilikste tussenverkiesing waarin sy betrokke was sedert sy 10 jaar gelede by die politiek betrokke is.
Die tussenverkiesing is afgehandel en die DA is bly hy het gewen. “Die uitslag was ‘n groot verligting en vreugde.”
Volgens Windwaai sien sy daarna uit om haar sitplek as raadslid in te neem.
Sy gaan ‘n raadslid vir inwoners van die wyk wees ongeag hul politieke verbintenisse en oortuigings.
Finale uitslag:
- DA 731 (32.56)
- ANC 512 (22.81)
- GOOD 723 (32.20)
- EFF 13 (0.58)
- PBI 258 (11.49)
- ACO 8 (0.36)
Totale stemme soos deur die OVK verskaf: 2245
Stempersentasie: 59,16%
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'